Die Wes-Kaapse minister vir behuising, Bonginkosi Madikizela, spreek sowat 200 inwoners toe oor behuising in Atlantis.Foto: Murphy Roberts


“Inwoners van Atlantis sal moet saamstaan vir wat reg is en nie wag tot ek weer oor ses maande kom en steeds kla oor dieselfde goed nie.”

Só meen Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse minister vir behuising.

Hy het Woensdag 7 Maart sowat 200 inwoners by die Rebecca van Amster­dam-saal in Protea Park toegespreek.

Inwoners wou weet waarom hulle so lank moet wag vir nuwe huise om gebou te word.

Waarop Madikizela verduidelik het: “Die Wes-Kaap het ’n agterstand van 600 000 huise en die provinsie het sedert 2002 tot 2017 met 2 miljoen-inwoners gestyg. Die begroting vir behuising is R2 miljard en daar moet huise aan inwoners in al 25 munisi­paliteite voorsien word.”

Madikizela sê verder met die soort begroting kan slegs ongeveer 18 000 huise gebou word.

Inwoners wat reeds meer as 20 jaar op die waglys is, wou ook weet waarom hulle steeds wag. Madikizela meen inwoners moet nie net aanvaar wat amptenare aan hulle sê nie en moedig inwoners aan om hul raadslede tot verantwoording te roep. Hy sê be­hui­sing in Witsand en ander informele nedersettings vorder fluks, want daar­die mense staan saam en doen die pro­jek in die vorm van People’s Housing Project (PHP). Hy het die inwoners aangemoedig om dieselfde te doen.

Die minister het verder gesê die eerste 30 huise van fase een van die Kanonkop-behuisingprojek behoort teen 30 Maart gereed te wees, met ’n verdere 30 huise wat in Mei voltooi word.

Fase twee van die projek, wat 1 124 huise beplan, is goed op dreef met die beplanning en ontwerp wat reeds vol­tooi is en die aansoek vir finansiering is reeds deur sy departement ontvang. Die siviele dienste vir fase twee behoort reeds in 2018-’19 af te skop met konstruksie wat in 2019-’20 gaan begin.

Madikizela het inwoners die versekering gegee dat 200 van fase twee se huise eers aan goedgekeurde inwoners, wat nie destyds huise by die Housing Association Blaauwberg (HAB) in uitbreiding 12 gekry het, gegee gaan word. Daar is ook ’n beoogde GAP-behuisingsprojek wat beplan word. ’n Tender sal eersdaags vir die bou van die 600 huise uitgaan.

You need to be Logged In to leave a comment.