Inwoners van Adriaticlaan in Avondale is in rou gedompel nadat die lyke van ’n bejaarde egpaar Woensdagmiddag 23 Augustus in hul huis deur polisielede ontdek is.
Die polisie is Woensdag deur ’n bekommerde buurvrou gevra om ondersoek in te stel nadat sy haar buurman vir byna twee weke nie gesien het nie.
Volgens Chynthia Mossay, was haar buurman nog baie aktief en het hy self sy vrou versorg nadat sy vroeër vanjaar ’n beroerte gehad het. Andrew Oliver (70) en sy vrou Rachael (ook vermoedelik in haar 70’s) se lyke is in die huis gevind. Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, word geen onraad vermoed nie, maar ’n standaard geregtelike doodsondersoek is geregistreer.
“Dit is in hierdie stadium onbekend wat die egpaar se dood veroorsaak het, ’n nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal,” het Van Wyk gesê.
Marie Rens, Oliver se jonger suster, sê haar broer was ’n baie privaat mens. “Ek het hom nog onlangs gesien en daar was nie fout nie,” vertel sy hartseer. Omstanders het verslae na die huis gestaar terwyl forensiese deskundiges op die toneel besig was.