Bendegeweld ruk nou handuit.
’n Vermeende lid van die 28-bende is Maandag (8 Januarie) naby sy hoofkwartier in Gazoniastraat, Proteapark in die eerste bendeverwante voorval vir die jaar in die dorp afgemaai.
Monray Goliath (21) van Coral Place in Avondale is tussen 13:00 en 14:00 geskiet toe hy en ’n vriend van die winkel gestap het. Goliath alias Tamatie is twee keer in die linkerarm en een keer in die rug geskiet en twee kopskote toegedien.
Volgens sy ma, Johanna Goliath, het haar kind aan die 28-tronkbende behoort en weet sy nie presies wat gebeur het.
Volgens ’n betroubare bron was die oorledene en sy makker op pad van die winkel toe twee mans agter hulle stap en net begin skiet het.
Die bron vertel voorts dat die oorledene in die kop geskiet is, nadat hy eers in die arms en rug gewond is, terwyl die makker nie raakgeskiet is nie.
Gerugte van wraakaanvalle het die ronde gedoen en dat ’n bloedbad onafwendbaar in die voortslepende bende-oorlog is.
Die skote het weer die afgelope naweek geklap en twee mense is in afsonderlike voorvalle doodgeskiet. Aden Hill (21), ’n vermeende lid van ’n bekende bendegroep, is Vrydagaand (26 Januarie) ná 21:00 in Charl Uys-rylaan met ’n enkele skoot doodgeskiet.
Hill, wat reeds twee aanslae op sy lewe oorleef het, was nie so gelukkig die derde keer nie. Volgens omstanders het Hill, wat naby die straat bly waar die skietvoorval plaasgevind het, na sy huis geloop. Hulle vertel voorts dat hy en nog ander mans gedobbel het toe hy gou huis toe wou gaan. Volgens ’n betroubare bron het drie mans die oorledene genader en ’n enkele skoot geskiet waarna hulle laat spaander het. Die bron vertel dat Hill in die rug geskiet is en het op die toneel aan sy skietwond beswyk het.
Sondag (28 Januarie) is nog ’n jongman meters van sy huis doodgeskiet. Volgens ’n familielid het die oorledene met die aanvallers gepraat toe hulle hom skielik skiet. Volgens sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, word ’n klag van moord ondersoek en nog niemand is in hegtenis geneem nie.