Bendes plunder, moor en saai verwoesting

Bendegeweld is weer besig om handuit in Atlantis te ruk.


Bendegeweld is weer besig om handuit in Atlantis te ruk.

Jackmill Mcgregor (27) is Dinsdag 27 Februarie vermoedelik deur lede van ’n bendegroep in Meterensirkel, Avondale, doodgeskiet.

Volgens ’n bron wat anoniem wil bly, het McGregor en ’n vriend in die pad geloop toe die bendelede in hulle rigting gestap kom. Die vriend (vermoedelik ’n lid van ’n ander bendegroep), het die hasepad gevat en McGregor, wat glo nie met bendes betrokke was nie, is verskeie kere geskiet. Hy het op die toneel aan sy wonde beswyk.

Gerugte dat die bendes inwoners as gyselaar aangehou het en mense aangerand het, kon nie deur die polisie bevestig word nie.

Kapt. FC van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder het die voorval bevestig en sê ’n klag van moord word ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Dieselfde dag omstreeks 10:30 is ’n 16-jarige seun ernstig by die Island Place-woonstelle gewond. Hy het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

’n Bendegroep het onlangs ook groot amok by die Atlantis-polisiekantoor gemaak nadat van hul lede in hegtenis geneem is vir die plundering van huise in Uitbreiding 12.

Volgens ’n betroubare bron het bendelede en familielede in die nagtelike ure na die polisiekantoor opgeruk en geëis dat hul makkers vrygelaat word.

Versterkings van Melkbosstrand en Philadelphia is ingeroep ná die jeugdiges twee vangwaens se bande flenters gesteek het. Volgens die bron is personeellede ook met vuurwapens gedreig en is daar selfs ’n vuurwapen in een se mond gedruk. Kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder het bevestig ’n klag van opsetlike saakbeskadiging word ondersoek nadat staatseiendom beskadig is.

You need to be Logged In to leave a comment.