“Ons gaan slaan en ons gaan hard slaan.”

Dít is die minister van polisie se dreigement aan bendes in Atlantis.

Adv. Lennit Max, spesiale raadgewer vir die minister van polisie, Bheki Cele, en genl.maj. Andre Lincoln, hoof van die polisie se nuwe bende-eenheid, het verlede week Atlantis besoek.

Dié twee het vrae van die gemeenskap by die Atlantis-gemeenskapspolisieforum (GPF) se imbizo beantwoord. Dié imbizo is Donderdag 18 Oktober in Protea Park Primêr se skoolsaal gehou.

Lincoln het inwoners verseker dat sy eenheid sukses sal behaal aangesien hulle uit kenners en nie net uit speurders bestaan nie. Hy het ook verwys na die suksesse van die verlede en gesê in twee sake uit Atlantis is bendeleiers en -lede gesamentlik byna 800 jaar gevangenisstraf opgelê.

Inwoners by die vergadering was egter woedend oor die stand van sake en baie het oor polisiebrutaliteit gekla.

Max het inwoners aangemoedig om foto’s en video-opnames van voorvalle te maak as bewyse en hulle aangemoedig om polisielede wat sonder naamplaatjies beweeg aan te meld.

Volgens een van die inwoners, Rebecca Davids, is kinders wat maar agt jaar oud is, reeds dwelmverslaafdes en meen dwelmhandelaars moet ook vasgevat word om bendebedrywighede hok te slaan.

Max het ook klem gelê op die feit dat mense meer die polisie moet vertrou om die dorp veiliger te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.