Berzelia Primêr is in hul noppies nadat twee onderskeie groepe skenkings gemaak het vir die komende winterseisoen.
Die South African National Zakah Fund (SANZAF)-stigting het Woensdag 17 Mei die sowat 500 leerders verras met winterwarmte-geskenkpakke.
Die geskenkpakke bevat ’n mus, handskoene, serp en waterbestande jas. Elkeen van die leerders het ook iets te ete en ’n pakkie lekkernye gekry. Die skool was een van ses skole in die Kaap wat deur die organisasie ondersteun is.
Dieselfde dag het ’n ander nie-winsgewende organisasie, die Hoop-stigting, 60 leerders van skoolskoene voorsien.
Stigter Sabastian Haricombe vertel dat die organisasie altesaam 300 paar skoolskoene aan Grosvernor, Kerria, Saxonsea, Protea Park en Berzelia geskenk het.
“Ek dink ook dis belangrik om by te voeg dat die skoene gekoop is met geld wat deur die gemeenskap geborg is. Ons het omtrent elke Saterdag by die inkopiesentrum gestaan en mense gevra vir donasies. Ons het R11 000 in Atlantis ingesamel,” voeg Haricombe by.
Die Hoop-stigting het ook ’n addisionele 300 paar skoene aan skole in die Manenberg-omgewing geskenk.
Apollis Sedeman, hoof van Berzelia, sê hy is geweldig dankbaar vir die skenkings. “Ons skool en gemeenskap het ’n groot nood. Daar is armoede as gevolg van werkloosheid en ouers sukkel om kinders met skoolklere uit te rus.”