Inwoners van Mamre sê hulle is keelvol vir die Stad se stelsels.
Die besprekingsprosesse vir kampeergeriewe by Atlantis se naaste oord, Silwerstroomstrand, is etlike jare reeds in die soeklig, maar hierdie keer dreig inwoners om die strand te sluit indien hulle versoek geïgnoreer word.
’n Groot groep ongelukkiges het hulle nou na proporsionele raadslid van die opposisieparty, Fiona Abrahams, vir hulp geskaar.
By ’n vergadering tussen die groep inwoners, Abrahams en ’n amptenaar van die Stad Kaapstad Donderdag 13 September, het inwoners gekla hulle kan die deurkom op die telefoon nie.
Die afgelope paar jaar word een spesifieke dag in September beskikbaar gestel waar inwoners moet bel om plek by die oord vir die Desembervakansie te bespreek.
Kampeerplek word dan volgens ’n keuringsproses bevestig – wat onder meer insluit dat die aansoeker geen uitstaande munisipale rekeninge het nie.
Amptenare het ook op ’n vorige geleentheid aan Weskus Nuus verduidelik voorkeur word gegee aan kampeerders wat vir die duur van die vakansie plek bespreek.
Inwoners vra al die afgelope drie jaar dat amptenare teruggaan na die instap-metode vir besprekings, waar daar direk met ’n beampte gepraat kan word.
Die munisipale amptenaar het egter verduidelik werknemers is in die verlede geïntimideer en beledig deur inwoners en dis waarom die instap-beleid gestaak is.
Volgens een inwoner, Michelle Arendse wat die vergadering gereël het, moet die Stad dringend na die stelsel kyk, want plaaslike inwoners voel uitgesluit en sê Silwerstroomstrand-oord is deel van Mamre se erfenis.
Abrahams het die inwoners gevra om voorstelle vir ’n beter stelsel in te dien sodat sy die mosie by ’n subraadvergadering kan indien.