Betogers met traangas en rubberkoeëls verjaag

“Dink julle dis Marikana?” wou betogers by die polisie weet nadat hulle onder traangas en rubber­koeëls deurgeloop het.


“Dink julle dis Marikana?” wou betogers by die polisie weet nadat hulle onder traangas en rubber­koeëls deurgeloop het.

Inwoners van Witsand, net buite Atlantis, het vroeg Donderdag 18 Okto­ber die ingang na Atlantis van die N7-pad met brandende bande en bome, wat afgesaag is, versper.

Die gemeenskap se ongelukkigheid spruit onder meer uit die memorandum wat vroeër aan raadslede oorhandig is vir die bou van ’n saal, biblioteek en kliniek asook onvoldoende diensle­wering.

Volgens Thobile Maseti, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie (Sanco) in dié gebied, is inwoners ongelukkig met die raadslede. Ook is inwoners ontsteld dat die bou van ’n gemeenskapsaal vir Witsand volgens hulle sloer.

Hulle eis dat die bouplanne vir die saal aan hulle oorhandig moet word sodat inwoners self die saal kan bou. Die groep ongelukkiges het ook geëis dat Little en Cynthia Clayton, voorsitter van die subraad, onmiddellik moet bedank, want hulle is “korrup”.

Gemoedere het oorgekook toe die polisie se eenheid vir openbare orde (POPS) betogers gevra het om uiteen te gaan.

Rubberkoeëls en traangas is daarna op die meer as 1 000 betogers geskiet wat hulle in verskillende rigtings laat spaander het.

Bewerings van ’n gewelddadige betoging van Witsand tot in Atlantis het egter nooit gebeur nie. Volgens die pamflette wat versprei was, moes mense “dit nie waag om te gaan werk” waarna paniek behoorlik op sosiale media gewoed het. Daar het egter min van die dreigemente gekom. Busse het grotendeels soos normaal gery hoewel roetes na Witsand vermy is. Voor haar bedanking Vrydag het Little in ’n radio-onderhoud gesê sy sal nie bedank nie en het mense aangemoedig om eerder ’n klag teen hulle aanhangig te maak as hulle korrup is.

Little het gevra dat inwoners geduldig moet wees omdat die planne vir die saal eers goedgekeur moet word en dit gebeur nie oornag nie. Sy het wel verseker dat die saal gebou sal word.

Pendelaars wat vroegoggend op ’n MyCiti-bus was, het op sosiale media gesê ’n petrolbom is na die bus gegooi, maar het gelukkig geen skade aangerig nie.

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, provinsiale polisiewoordvoerder, is sewe mense vir openbare geweld in hegtenis geneem en een vrou is beseer.

Betogers sê hulle is nog nie klaar nie.

¦Twee van die DA-raadslede wat die ongelukkiges geëis het moet bedank, het die afgelope week geloop.

Die bedankings van die DA se Suzette Little, burgemeesterskomiteelid, en Gregchan Bernado, proporsionele raadslid van Atlantis, Vrydag 26 Oktober, kom egter nadat hulle bedank het uit solidariteit met Kaapse burgemeester Patricia de Lille.

De Lille se laaste dag as burgemeester is Woensdag.

You need to be Logged In to leave a comment.