Nasionale Biblioteekweek is op verskeie maniere in Atlantis en Mamre gevier.
Tydens die week wat jaarliks tussen 18 en 25 Maart gehou word, word uitstaande boetes ook afgeskryf deur die biblioteek en verskeie inisiatiewe word gehou om inwoners by die biblioteek te laat aansluit.
Avondale-biblioteek het Maandag ’n motiveringspraatjie deur plaaslike skywer Shaun Maxim en gemeenskapswerker Allister Lightburn gereël. Maxim, wat verslaaf was aan dwelms, het verskeie selfhelpboeke geskryf oor sy lewensverhaal.
Tydens die praatjie, wat deur kinders en ouers bygewoon is, het Maxim vertel van die emosionele trauma wat hy nooit verwerk het nie, wat gelei het tot alkoholisme en later dwelmverslawing.
Hy het ook baie klem gelê op die stigma rondom verslawing.
“Verslawing is ’n siekte. Baie keer kruisig ons mense vir hierdie siekte. Maar ons vergeet ons sien net die uiterlike, ons ken nie die innerlike nie.”
Hy het ook genoem dat alhoewel ’n persoon die verslawing kan oorkom, word hy dikwels “aan sy stink verlede” gebind deur die gemeenskap.
Maxim het ook onder meer gesê jy kan ’n verandering maak in ’n kind van ’n verslaafde se lewe deur die kind te help om ’n biblioteekkaart te bekom of hom te help lees.
Maxim het afgesluit deur te sê: “Om ’n addict te wees is hel. Jy het net een keer ’n keuse om dwelms te gebruik, en dis die eerste keer. Die tweede keer het die dwelms vir jou gekies.”
Lightburn het op sy beurt aan die gehoor vertel van die vriende wat hy as gevolg van bendegeweld verloor het. “Ek was op Hoër Tegniese Skool Proteus toe my ma 22 jaar gelede oorlede is. Die manier hoe die onderwysers hulself ontferm het oor my – al was ek so stout – het veroorsaak dat ek my lewe verander en al die negatiewe energie omgesit het in positiewe werke,” het Lightburn bygevoeg.
As deel van die verrigtinge het die biblioteek ook ’n kompetisie gehou, waar leerders prentjies moes teken om uit te beeld waar hulle veilig voel. Kapt. Cyril Dicks van die Atlantis-polisie het Donderdag 23 Maart saam met Wilhelm Cronjè van Avondale-biblioteek, pryse aan die wenners gaan oorhandig by Avondale Primêre skool. Azhley Africa het die eerste prys gewen met Tamia Syster en John-Lee Mathys in tweede en derde plek. Die leerders het geskenkpakke van Avondale-biblioteek gewen. Dicks het ook die geleentheid gebruik om die leerders toe te spreek oor veiligheid.
Mamre-biblioteek het verskeie funksies gereël vir biblioteekweek, insluitend brandbewusmaking deur die brandweer, ’n inligtingsessie deur Koeberg-kragstasie en ook mark gehou.