Een van Atlantis se jong, talentvolle aktrises het in 2016 haar debuut op die TV-skerm gemaak.
Lindsey Abrahams (22) van Robinvale is sedert September te sien in die immergewilde Afrikaans-sepie, Suidooster, wat in die Kaap afspeel.
Abrahams vertolk die rol van Lauren, ’n 15-jarige meisie wat voorgee sy is ouer om Jerome (vertolk deur Danny Ross) te beïndruk.
Abrahams het in Maart haar graad in drama van die Universiteit Stellenbosch ontvang.
Daarna was sy by die Suidoosterfees te sien in haar eerste professionele teaterproduksie – Ek missie Ses.
Dis hier waar haar talent raakgesien is, en sy gevra is om vir ’n oudisie vir die rol in Suidooster te kom.
“My liefde vir die verhoog en kameras het ek van my ma gekry,” sê Abrahams.
Lindsey sê om met die groot name in die televisiebedryf te kan werk was vir haar ’n belewenis, maar het haar ook geleer om haar voete plat op die aarde te hou. Sy het onder meer met Cedwyn Joel (Sonny Jacobs in Generations,) Denise Newman (Daleen Mentjies in 7de Laan) en Christo Davids (Errol in 7de laan) gewerk.
Sy is tans met die musiekblyspel, U Turn, wat deur Davids geskryf is, doenig, en hoop dit sal ook in Atlantis vertoon word.
“Armoede, bendes en dwelmmisbruik is nie ’n rede om nie jou drome na te streef nie. Dit moet jou eerder aanspoor om harder te werk en op die Here te vertrou,” meen Abrahams. Die boorling van Atlantis sê sy verruil haar tuisdorp vir geen ander plek nie.
- Suidooster is Maandae tot Donderdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en kykNET & Kie (DStv-kanaal 145) te sien.