Die bloed vloei weer in Atlantis nadat dit ’n ruk lank baie stil was.
Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, is ’n man (37) Vrydagaand 5 Julie kort voor middernag in Brutusstraat, Saxonsea, doodgeskiet.
Volgens Rwexana het die oorledene en twee mans gestap toe onbekende mans hulle nader en begin losbrand.
Die oorledene het op die toneel aan sy wonde beswyk.
Ure later is ’n tweede mens in Dellville-hof, Sherwood Park, geskiet. Volgens Rwexana het dié 36-jarige oorledene omstreeks 05:30 saam met vriende by ’n vuur gestaan toe onbekende mans ook net begin losbrand het. Die oorledene het ook op die toneel aan sy wonde beswyk.
Volgens Rwexana is niemand nog aangekeer in verband met die voorvalle nie. Klagte van moord word in albei gevalle ondersoek.
In Witsand het ’n man ook sy lewe verloor nadat inwoners op Saterdag 6 Julie ’n duidelike boodskap aan inbrekers gestuur het toe hulle drie op heterdaad in ’n huis betrap het.
Drie skurke het eers in die vroeë oggendure ’n paartjie in die bed verras en met persoonlike dokumente, selfone en kontant weggekom. Die boewe is twee huise verder verras toe twee inwoners wat op pad winkel toe was gesien het die veiligheidshek staan oop.
Volgens ’n inwoner en ooggetuie het die twee teruggehardloop en die drie in die huis ontdek. Hy vertel twee van die skurke het met selfone en ’n skootrekenaar weggekom terwyl die derde nie so gelukkig was nie. Inwoners het gou saamgedrom en die inbreker met stokke en bakstene bygekom.
Die man het op die toneel aan sy beserings gesterf, sê kapt. Cyril Dicks, plaaslike polisiewoordvoerder.
Twee verdagtes is aangekeer en het reeds in die hof verskyn op aanklagte van moord in dié boendoehof-voorval.
Vrae heers egter oor ’n tweede Witsand-voorval waarin ’n ongeïdentifiseerde man Sondagoggend met ’n meswond dood gevind is.
Woensdag 10 Julie is ’n matrikulant ernstig beseer nadat hy verskeie kere met ’n mes ná skool gesteek is. Leerders by die skool in Protea Park is steeds geskok.