Honderde feesgangers het verlede naweek die Mamre-blommefees ondersteun.
Die naweek se propvol program het iets vir elkeen gehad van vermaak deur Alistair Izobell en Loukmaan Adams asook plaaslike talent Sis Kippie en Talitha Luiters tot dansers en rymkletsers.
Kosliefhebbers kon kies tussen afvalpotjiekos, tuisgebakte brood asook konfyt en melktert vir die soettande. Die blommerangskikking het die droogte in die Wes-Kaap uitgebeeld en vir die kleinspan was die talle speelgoedstalletjies, springkasteel en draaiwiel voorwaar ’n hoogtepunt.