Somerpret in die see of in die swembad is hier.
Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) doen ’n ernstige beroep op alle inwoners en toeriste van elders om veiligheid in en om die water die komende somervakansie te alle tye in gedagte te hou.
“Seestrome bly die grootste oorsaak wat tot verdrinkings aan die kus lei,” beklemtoon Craig Lambinon, die nasionale woordvoerder van die NSRI. Hy vra strandgangers om slegs by strande of plekke waar menseredders teenwoordig is, te swem.
Seebootvaarders, roeiers en skippers word aangeraai om die NSRI se toepassing, die NSRI RSA Safety Smart Phone Application, af te laai. Hy vra ook dat mense vooraf moet vasstel hoe die veiligheidstoerusting van die onderskeie seevaartuie werk.
Wat hengelaars aan die kuslyn betref, moet hulle altyd ’n veilige afstand van die water handhaaf.
“Kinders wat swem of naby water speel, moet dit in die teenwoordigheid van volwassenes wat doelbewus oor hulle toesig hou, doen. Een van die moeilikste take wat die NSRI saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en nooddienspersoneel moet uitvoer, is om familielede in kennis te stel dat hul geliefdes nie weer huis toe gaan kom nie,” pleit Lambinon.. Indien die nooddienste na ’n waternoodgeval ontbied moet word, kan 112 of 087 094 9774 geskakel word. Stoor die nommers sommer nou, sê hy.