Young Hearts van Pella het sy droom die naweek lewendig gehou om die tweede seisoen agtereen in Boland se Top 12 te speel.
Die plaaslike span het Saterdag 14 Julie vir Samoa van Mooreesburg in ’n Boland Swartwesstreekwedstryd met 34-27 op hulle tuisveld geklop.
Die besoekers was teen rustyd met 13-11 voor. Samoa het die eerste ronde wedstryd op omstrede wyse gewen en Ruben Abels se span het hierdie keer beslis wraak geneem.
Verder behou Young Hearts hulle derde posisie op die punteleer en moet hulle die twee voorlopers in wegwedstryde pak. Die tuisspan het baie stadig begin in die wedstryd en het veral in die eerste helfte swak besluite geneem wat Samoa die oorhand gegee het. Samoa het ook met ’n swaarder pak gespeel en het probeer veld wen met hulle talle losskrums, maar Young Hearts het beslis die mas opgekom en hulle telkemale teruggestoot en gelak.
Young Hearts het in die tweede helfte meer gebiedsvoordeel geniet met die sterk wind agter hulle blaaie. Verder het hulle skitterend verdedig en in die laaste 10 minute is Samoa verhinder om punte aan te teken.
Puntemakers: Refon Swartz (twee drieë), Anthony Williams (een drie), Kerwin Snell het 18 punte aangeteken (een skepskop, twee doelskoppe, drie strafskoppe) en Jade Solomons het een skepskop aangeteken. Pella se tweedespan wen ook met 20-14. Saterdag 22 Julie het die span hulle wegwedstryd teen Langebaan met 32-34 verloor.
S Op 5 Augustus speel hulle teen Paternoster.
Mamre: Edwill Okkers het op 15 Julie ’n bobaasvertoning gelewer toe hy byna manalleen Abbottsdale op Mamre verslaan het. Rustyd was Mamre reeds met 20-10 voor, die eindtelling was 35-25.
Afrigter Garth Liedeman, sal aan die span se dissipline moet werk.
Tydens dié wedstryd het hulle drie geelkaarte in die tweede helfte gekry en was op ’n tyd slegs 13-man op die veld. Dit het Abbottsdale die kans gegee om baie gou terug te kom in die wedstryd en die telling was met 10 minute oor 27-25.
Brad Prins het in die doodsnikke Abbottsdale se wind uit hulle seile geslaan toe hy met ’n lopie vanaf sy eie kwartgebied genael het, wat Christopher Liedeman in staat gestel het om agter die pale te gaan kuier.
Okkers het met die finale doelskop gefaal, maar het 25 punte (ses strafdoele, een doelskop, een drie) in die wedstryd aangeteken. Die slot Yulin Sampson het ook ’n drie vir Mamre behaal.
.Mamre het Saterdag sy laaste wegwedstryd teen Vredenburg met 23-24 verloor. Dis onseker hoe Boland se liga volgende seisoen gaan lyk, maar dit kom voor of Mamre in die streekliga gaan meeding.
S
Op Saterdag 29 Julie speel hulle tuis teen Never Despair.
Hamlets: Die span het net-net daarin geslaag om Violets in ’n Westelike Provinsie Superliga B-wedstryd met 38-36 te verslaan. Die wedstryd was op 15 Julie op Mamre beslis en Hamlets het reeds voor rustyd ’n bonuspunt verdien met die telling op 28-14.
Dwayne Gysman, Eudene van der Merwe, Mynhardt Clayton en Jody Jacobs het voor rustyd drieë behaal. Keanon Okkers het vier doelskoppe oorgeklits.
Haker Jaco Oppelt en plaasvervanger Dane Adams, het in die tweede helfte Hamlets se twee drieë behaal. Okkers en Babatjie van Niekerk het misluk met die doelskoppe. As Hamlets net kan konsentreer op die basiese spel sal hulle talle losballe wen. Hamlets het Saterdag vir Sir Lowerians, wat die laaste plek op die punteleer beklee behoorlik verniel en hulle met 50-29 pak gegee.
S
Saterdag 5 Augustus pak hulle Villagers op Mamre.