Boelies saai paniek met ‘sletlys’

Atlantis se “sletlys” het soos ’n veldbrand versprei ná dit vermoedelik deur leerders van ’n plaaslike skool opgestel en op Facebook versprei is.


Atlantis se “sletlys” het soos ’n veldbrand versprei ná dit vermoedelik deur leerders van ’n plaaslike skool opgestel en op Facebook versprei is.

Die lys, wat die name van plaaslike leerders bevat, is besig om paniek te saai en die groep maak dit duidelik dat hulle “los meisies” sal ontbloot en huishou­dings “sal opbreek as hulle moet”.

Drie lyste het sedert Donderdag die ronde gedoen, met die vermeende top-10-losbandige meisies en seuns in Atlantis. Die lys is daarna met ’n top-20-lys vervang en die laaste lys wat versprei is, die top-30, het Saterdag die lig gesien.

Dié lys het daartoe gelei dat ’n 14-jarige, wie se naam ook op die lys is, haar eie lewe probeer neem het omdat sy kwansuis betrokke by die opstel van die lys was.

Volgens ’n inwoner van Proteapark is die slagoffer ’n kind in haar huis en het sy in trane kom hulp soek, want sy was glo deur ander leerders gedreig. Om die kind teen ander woedende leerders te beskerm, moes sy noodgedwonge Vrydag in die hoof se kantoor eksamen skryf.

Sy het Vrydagaand onder die druk geknak toe hordes jongmense van verskillende skole op haar huis toegesak het.

Volgens die vrou het die kind probeer selfdood pleeg deur haarself met insulien in te spuit. Sy is steeds in die hospitaal. Volgens die ma van een van die jong mans wie se naam ook op die lys is, moet die skuldiges opgespoor word. Sy voel hulle moet boet omdat hulle onskuldige kinders se lewe verwoes het.

Sy vertel haar seun, ’n onderwys­student, moet binnekort by een van die skole gaan proef terwyl hy op die lys is en as ’n vigslyer uitgemaak word.

Bekommerde inwoners uit die gemeen­skap, wat ouers bystaan, sê hulle onder­steun die ouers, want die lys kan ook hulle kinders beïnvloed.

Volgens ’n inwoner, Verona Oktober, moet “die siek speletjie in sy spore ge­stuit word,” want baie onskuldige kinders se lewe gaan vernietig word.

“Ek het self tieners en vrees wat dit aan my kinders sou doen. Die kuber­boelies moet aangekeer word. Ons gaan nie rus tot die skuldiges uitgelig word nie,” sê Oktober.

Nog ’n ouer het in trane uitgebars en sê sy gaan nie ’n dag langer stilsit en toekyk hoe haar kind, wat in graad 10 is, ly nie. “As ek met hulle (die boelies) klaar is, sal hulle wens hulle was nooit gebore nie,” het sy gedreig.

You need to be Logged In to leave a comment.