Boendoehof verniel man

“Hulle het met die polisie in hulle taal gepraat, toe laat die polisie my aan my eie genade oor.”.


“Hulle het met die polisie in hulle taal gepraat, toe laat die polisie my aan my eie genade oor.”

Só sê Human Filander (39) nadat hy byna deur ’n groep mans in Witsand buite Atlantis doodgeslaan is. Filander vertel die mense sê hy breek by huise in en moes ’n les geleer word.

Hy vertel die groep het hom verlede Dinsdag net voor 19:00 beetgekry. “Ek het probeer verduidelik, maar die mense wou niks verstaan nie. Die groep het vergroot en almal het ’n slaanding in die hand gehad.

“Hulle wou my die bosse insleep. Ek was nog nooit in my lewe so bly om die polisie te sien nie,” vertel hy.

Die polisiebeamptes het glo met die mense in hulle taal gepraat en toe weggeloop. “Ek het by die polisiebeamptes gepleit dat die mense my gaan doodmaak en hulle moet my help, maar hulle is daar weg met die woorde ‘sharp, sharp’. Die houe het op my hele lyf begin reën en ek het van tyd tot tyd my bewussyn verloor,” sê hy.

Volgens ’n familielid van Filander het sy die polisie gebel toe die groep hom beetgekry het. Die vrou vertel sy het gesien hoe die twee polisiebeamp­tes wegry sonder om iets te doen. Sy het aanmekaar gebel en dieselfde beamptes het toe teruggekom terwyl Filander daar lê, vertel sy.

Hulle het hom hospitaal toe geneem, vertel die familielid verder. Filander is Vrydag 18 Mei uit die hospitaal ontslaan en het Weskus Nuus gekontak. Volgens Filander het hy ’n afspraak met die Atlantis-polisie se stasiebevelvoerder gemaak omdat hy nog te swak was.

Teen druktyd het die Atlantis-polisie nog nie kommentaar gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.