Die Kanonkop-behuisingsprojek is na meer as twee jaar op koers nadat ’n nuwe kontrakteur aangestel is en die eerste huise behoort reeds binne twee maande voltooi te wees.
Met Weskus Nuus se besoek aan die werf was toegang geweier. ’n Man wat hom voorgestel het as ’n projekbestuurder vir die kontrakteur Matamela Consulting, net bekend as Mulalo, het bevestig dat die maatskappy ’n 12 maande kontrak met die Stad Kaapstad gesluit het om 87 huise te herstel en voltooi.
Die Kanonkop-behuisingsprojek was al baie keer in die nuus nadat ’n dispuut tussen die vorige kontrakteur en die Stad ontstaan het wat werk tot stilstand gedwing het. Inwoners was hewig ontsteld omdat die projek so sloer en 12 voltooide huise is intussen tot op die grond deur vandale geplunder. Fase 1 van die projek wat 450 huise behels en waarvan byna 300 reeds voltooi is, het reeds in 2013 afgeskop en behoort teen 2019 voltooi te wees, het munisipale amptenare onlangs aan die gemeenskap by ’n openbare vergadering gesê.
Mulalo het verder bevestig dat die kontrakteur plaaslike arbeid gaan gebruik en dat die waterkrisis nie die haal van die spertye in die wiele gaan ry nie.
Michael Marote, voorsitter van die Atlantis-sakekamer, spoeg egter vuur omdat daar volgens hom slegs enkele plaaslike arbeiders gebruik word. “Die sakekamer was net in kennis gestel dat die Stad, ná ’n konsultasieproses, die nuwe kontrakteur aangestel het. Daar is glad nie met plaaslike bouers of ondernemings vergader nie,” het Marote gesê. Marote het dit aan Weskus Nuus beklemtoon dat enige konstruksieperseel gevaar vir verlies van inkomste inhou weens die waterkwessie. Volgens wyksraadslid Barbara Rass is ’n tweede kontrakteur aangestel om die laaste 78 huise te bou, wat dan fase 1 van die Kanonkop-behuisingsprojek sal afhandel. Sy weet egter nie wanneer die tweede kontrakteur aan hierdie laaste fase begin bou nie.