Bou van skool vorder fluks

Ouers en leerders het destyds gewys deur saam te staan kan dinge gebeur.


Ouers en leerders het destyds gewys deur saam te staan kan dinge gebeur.

Só meen Shane Jennicker, voorsitter van die Avondale Primêr-skoolbeheerliggaam.

Die skool het vroeg in 2016 opslae gemaak toe ouers, leerders en die beheerliggaam die skool se hekke vir byna twee weke gesluit het, uit vrees vir die kinders se veiligheid in die gebou wat reeds amper 40 jaar bestaan.

Die skool wat in 1977 opgerig is, het aanvanklik ’n lewensduur van 15 jaar gehad, maar 39 jaar later moes leerders en onderwysers koes-koes loop soos die gebou vervalle geraak het.

Meer as 30 leerders moes op ’n stadium mediese behandeling kry by die plaaslike hospitaal nadat hulle net begin jeuk het en ten minste een onderwyser het geval net nadat die hekke oopgesluit is na die protesaksies.

Die skoolgemeenskap is in die wolke met bouwerk wat reeds sedert Augustus aan die gang is. Jennicker sê dit voel vir hulle soos “ ’n droom wat waar word.”

Die moderne skool met ’n koste van byna R45 m, sal volgens plan einde aanstaande jaar voltooi wees.

“Ouers het destyds met die lock-out gewys hulle is ernstig en dat die veiligheid van ons kinders eerste kom. Ons het na die kantore van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) opgeruk. Dit het gevoel asof ons pleidooie op dowe ore geval het, maar ouers het vasgeskop met een doel voor oë, ’n nuwe skool,” het Jennicker bygevoeg.

Onderwysers en leerders by die skool is dit eens, hulle kan nie wag vir die dag dat hulle na die nuwe gebou trek nie.

You need to be Logged In to leave a comment.