Werknemers besig om Woensdagoggend buite die fabriek op te ruim. Foto: Joline van der Merwe


Die reuk van gebrande materiaal het Woensdagoggend nog oor die Rotex-tekstielfabriek in Atlantis gehang nadat ’n brand die vorige aand hier uitgebreek het.

Daar is steeds onsekerheid oor hóé die brand in die afwerkingsafdeling van die fabriek ontstaan het, verduidelik direkteur, Martin Rohner.

Rohner sê klein brande is die norm in enige tekstielbedryf, maar toe hy die vorige aand omstreeks 21:15 die oproep ontvang en die paniek aan die anderkant van die lyn hoor, het hy geweet hierdie keer is dit erger.

Rotex het sowat 150 werknemers, waarvan 40 aan diens was ten tyde van die brand. “Die nooduitgangsplan is gevolg en niemand het seergekry nie,” sê Rohner.

Alhoewel werknemers aangesê is om nie Woensdag vir werk te rapporteer nie, was daar die wat gehelp het met opruiming.

Niemand word egter binne die gebou toegelaat nie, totdat die ingenieursondersoek afgehandel is en hy goedkeuring gegee het.

Derduisende rande se materiaal is verwoes en hy weet nog nie hoeveel die skade aan die gebou is nie, maar hy is seker verliese beloop miljoene rande, sê Rohner. Hy noem ook die onderneming is verseker. “Dit is moeilik om te sê wanneer werknemers terug kan keer, maar ons sal in kontak met hulle bly.”

Bestuur sê werknemers sal vergoed word terwyl die fabriek toe is.

You need to be Logged In to leave a comment.