As een van die eerste vyf brandweermanne by die Atlantis-brandweerstasie, lê David Willemse uiteindelik na 37 jaar sy tuig aan die einde van hierdie maand neer.
’n Kind van Atlantis het hy in Mamre en Babblers Place, by die Dura-woonstelle grootgeword.
Willemse vertel na ’n onderwyser hom onnodig op skool geslaan het, het hy besluit om nie terug te gaan skool toe nie.
Op ’n dag op pad om te gaan werk soek in die industriële gebied, is hy deur ’n man voorgekeer wat vir hom werk aanbied.
Hy het agterop ’n bakkie geklim en so het sy reis as “toevallige” brandweerman begin.
“Brandweermanne moet alles kan doen. Ek het leer duik in dié ‘samp’ wat 9 m diep is,” wys hy na iets wat soos ’n toring buite sy venster lyk. Die “toring” huisves ’n put wat 9 m diep is waar die brandweervragmotors hul water vandaan kry.
“Ek het ook in die brandweer kom leer kosmaak. Kerrie met piesang (vir ekstra proteïene) en rys het later my gunstelinggereg geword.”
Willemse sê hy het in die 37 jaar elke geleentheid aangegryp wat hom gebied is – sy vier bladsye van kursusse wat hy voltooi het, spreek hiervan.
Hy onthou steeds sy eerste trauma-voorval – ’n busongeluk op die R27 (Weskuspad).
“ ’n Bus het in ’n stilstaande voertuig vasgery. Baie mense het hul lewens verloor. Ons moes oor dooie mense klim op soek na oorlewendes. Een vrou was reeds ‘blou geklassifiseerd’ (dood verklaar) en in ’n sak gesit toe ek sien sy haal nog asem.”
Willemse het reeds baie mense, regoor die Kaap opgelei rakende brandgevaar en sê hy is trots om te sê dat hy van Atlantis kom.
“Ek is van Atlantis. Hoekom moet mens nie wees nie? Atlantis – en veral die brandweer – het ’n ryk geskiedenis. Dis opreg ’n plek waaroor mens kan trots wees,” vertel hy.