’n Brandweerman van Atlantis is Dinsdag 10 Julie tronkstraf opgelê nadat hy in Desember sy voormalige baas en dié se vrou by ’n geselligheid aangerand het.
Vernon Rosan is verlede week in die Atlantis-landdroshof skuldig bevind op aanklag van aanranding nadat hy ’n paartjie bewusteloos geslaan het, ná die werk se jaareindpartytjie.
’n Tweede klag van diefstal is ook teen hom ingebring.
Op die aand van die voorval het die brandweerpersoneel ná die partytjie besluit om verder by hul voormalige baas se huis te gaan kuier.
“Ons was nie baie gemaklik toe hy (Rosan) ook saam is nie, want daar was al voorheen onaangename voorvalle in ons huis waar hy betrokke was,” vertel die voormalige baas se vrou.
“Ons het toe besluit om hom maar toe te laat om nie die party te spoil nie,” het sy bygevoeg.
“Die span was redelik aangeklam toe hulle hier by ons aangekom het. Alles het goed verloop totdat hy (Rosan) in almal se teenwoordigheid onvanpaste seksuele aanmerkings aan ’n vrou gemaak het.” Die vrou, wat nie haar naam genoem wil hê nie, sê sy was geskok maar nie verbaas nie.
Hulle het glo vir Rosan gevra om die perseel te verlaat. Ons het hom uitgehelp tot ons spyt, want hy het heel berserk geraak en sy hemp uitgetrek.”
Sy vertel haar man is eerste uitgeklop, waarna hy háár toe getakel het. Met ’n skop vol in haar gesig het hy haar ook bewusteloos gelaat. Daarna het Rosan teruggegaan om “ons plek te verniel.” Hy het ook haar selfoon en nog ander items uit die huis gesteel. Dit was alles op die paartjie se sekerheidskamera vasgevang en die beeldmateriaal is op sosiale media gedeel.
Landdros Garth Darris het gedurende die vonnisoplegging gesê Rosan (44) het nooit berou getoon nie. Darris het ook die beskuldigde se getuienis ter versagting verwerp. Die landdros wou weet hoe Rosan kan aanvoer hy is iemand wat mense in sy gemeenskap help wanneer hy “ ’n weerlose vrou soos ’n regte doelskieter vol in die gesig” geskop het. Rosan is 21 maande tronkstraf toegedien.