Bendeverwante moorde het die Atlantis-gemeenskap die afgelope paar weke geruk. Die vlaag bendeverwante misdade het opnuut die fokus na die Atlantis-polisie verskuif. Volgens ’n polisiebron het een van die senior offisiere summier bedank en ses ander – wat na bewering ook die stasiebevelvoerder insluit – is met stresverlof.
Bendeverwante moorde neem toe
In die jongste voorval is drie mense Vrydag 30 Junie in twee afsonderlike voorvalle doodgeskiet.
Kol. Andre Traut, provinsiale woordvoerder, het bevestig ’n 24-jarige man het Maandag 3 Julie in die Atlantis-hof op twee klagte van moord verskyn. Dit volg nadat ’n Davian Steens (26) en Josephine Botman (40) omstreeks 20:30 in Duifsteeglaan, Robinvale geskiet is. Hulle het op die toneel gesterf.
In ’n tweede voorval is Patrick Gordon (19) omstreeks 21:15 in Bottlebrushstraat, Protea Park, geskiet. Hy het ook aan sy wonde beswyk. Die voorval word steeds ondersoek.
Volgens ’n polisiebron, moes die 26- jarige oorledene sy hek vir ’n bekende persoon oopgemaak het toe hy geskiet is in, wat geglo word, ’n onderonsie oor turf is. Daar word volgens bure beweer daar is dwelms by die oorledene se huis verkoop.
Die moord op Brent Kruger (32), ’n jong pa van Avondale, op 21 Junie nadat hy in ’n kruisvuur tussen opponent-bendes bealnd het, het skokgolwe deur die dorp gestuur. Die twee verdagtes in dié saak is intussen op ’n waarskuwing met streng borgvoorwaardes vrygelaat.
Suksesvolle vervolgings
Een van die vrae wat telkemale op die sosiale netwerk Facebook gevra word, is wat het geword van die Poca-span?
Die Poca-span verwys na ’n polisie-taakspan wat bendelede onder die Poca-wetgewing ondersoek het. Die span het bestaan uit adv. John Reyneveldt (staatsaanklaer), ao. Josef Phillips en kapt. Deon Petersen en lt. AD Damons wat nou reeds uit die polisie getree het.
Die taakspan was verantwoordelik vir die eerste suksesvolle vervolging van die Poca-wet met die skuldigbevinding van 16 Fancy Boys in 2013, onder leiding van Mallick Petersen. Die bendelede is skuldig bevind op 50 klagte waaronder moord, poging tot moord, dwelmhandel, aanranding met die opset om te beseer en die onwettige besit van vuurwapens. Die bendelede is altesaam 413 jaar vonnis opgelê.
In September 2014 is Craig Hendricks en Zane Booysen, glo lede van die 28’s tronkbende altesaam 328 jaar tronkstraf in die Kaapse hooggeregshof opgelê. Die twee is ingevolge die Poca-wet aangekla van dubbele moord, ses pogings tot moord en besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Dieselfde polisie-taakspan het ook die saak ondersoek.
Petersen en Phillips wat in Atlantis gewerk het, is egter ná die suksesvolle vervolgings na die provinsiale speurkantore oorgeplaas.
Volgens Warren Carolus, voorsitter van die Atlantis- gemeenskapspolisiëringforum (GPF), het die polisie aan hom bevestig dat daar tans sake onder die Poca-wet ondersoek word in Atlantis.
Die polisie wou nie kommentaar lewer op Weskus Nuus se navrae rondom die Poca-wet en beweringe dat die offisiere met stresverlof is nie.
Manlike rolmodelle kan verandering bring
Volgens Allister Lightburn van die Gender Transformation Network, is dit nou die tyd vir mans om saam te staan en Atlantis se strate skoon te maak. Hy het ook gevra waarom die polisie al Atlantis se beste ondersoekbeamptes uit die dorp neem terwyl die dorp onder bendegeweld ly.
Beauron Ranck, voorsitter van Men Arise Against Women and Child Abuse, wat verskeie optogte in Atlantis, Pella en Mamre gehou het om bewusmaking rondom geweld teen vroue en kinders te bevorder, het ook sy kommer uitgespreek.
“Die feit dat Atlantis se top- polisiebeamptes verplaas word en nie vervang word met ervare beamptes nie, is ’n groot bron van kommer.”
Ranck meen die grootste uitdagings in Atlantis is plaaslike polisielede wat vriende, bure en familie moet ondersoek en moontlik in hegtenis moet neem.
“Dié polisielede woon in die dorp en dit maak dit moeilik om hul werk effektief te doen weens die vrees dat hul lewe of dié van familielede in gedrang is,” het hy bygevoeg.
Geestelike leiers
Raadslede het onlangs ’n vergadering met geestelike leiers en skoolhoofde op die dorp gehou om die kwellende bendegeweld aan te spreek.
“Daar is ’n pastoor vir elke bendelid in Atlantis, maar wat doen hulle,” wou Danny Pietersen, skoolhoof van Reygersdal Primêr by die vergadering weet.
Die skoolhoofde het hul kommer uitgespreek omdat baie van die bendelede van skoolgaande ouderdom is.
Waldy Kastoor, skoolhoof van Parkview Primer, het op sy beurt gesê kinders beskou die bendeleiers as rolmodelle.
Skole het gevra dat die geestelike leiers meer betrokke moet raak by skole.