Mamre se behuisingsnood word weer deur die Kaapstadse burgemeester, Dan Plato, aangespreek.
Volgens Mamre Communal Property Association (CPA) se voorsitter, Wilfred Solomons-Johannes, is ’n vergadering tussen die burgemeester, burgemeesterskomiteelid vir area Noord, Grant Twigg en die plaaslike subraad 1-voorsitter Cynthia Clayton gehou om verskeie versoeke te bespreek.
Volgens Solomons-Johannes het die burgemeester homself verbind om die proses te bespoedig aangesien die gemeenskap reeds besluit het dat grond beskikbaar gestel moet word.
Behuising moet vir eers nou voorkeur geniet, meen die CPA aangesien dit die Mamre-gemeenskap se grootste nood is.
Volgens Solomons-Johannes is die CPA ook besig met ’n plan om die dorp se ekonomiese vooruitgang ’n hupstoot te gee. “Die dorp kan nie floreer sonder ’n aksieplan nie,” sê Solomons-Johannes.