Ek, JB, wil bitter graag my teleurstelling uitspreek teenoor subraad 1 se raadslede in Atlantis. Ek wil u graag uitdaag om eendag weg te breek van die kantoor en deur die dorp ry.
Clayton in haar wyk en Rass in hare – of albei in een kar. Ons dorp was nog nooit in sulke haglike toestande nie. Sommige huiseienaars dra ook by tot die toestand, pleks van die rommel wegry, versprei hulle dit in die oop spasies. ’n Paar voorbeelde van die buurte: oorkant die Morawiese kerk in Proteapark, die gang langs Berzelia Primêr en agter die skool, tussen Magnolia-, en Gazoniastrate, in Kerrialaan, al langs die skooldraad.
Al die strate in ou Proteapark is vuil en morsig. My punt is: hier is duisende mense sonder werk, gee almal ’n kontrak van drie maande om die dorp skoon te maak en nie nepotisme – soos in raadslid Clayton se geval nie.
Baie bekommerde DA-lid,
ProteaparkWyksraadslid, Barbara Rass, reageer: Baie dankie vir hierdie brief. Die skoonheid van die dorp is reeds ’n geruime tyd ’n bekommernis vir my as inwoners en raadslid. Om die probleem aan te spreek, is daar onlangs weer 150 EPWP-werkers aangestel om skoon te maak. Ek moet egter noem, daar word gereeld skoongemaak, maar twee of drie dae later is dit weer vuil. Inwoners moet leer om hul omgewing te respekteer. Leer julle kinders om nie rommel te strooi nie. As raadslid het ek ook sover gegaan om pamflette te laat druk met die nommers wat inwoners kan skakel indien hulle mense sien wat onwettig vullis stort, inwoners kan tot R1 000 vergoed word vir inligting wat lei tot die inhegtenis-neming van oortreders. Wanneer jy iemand onwettig sien vullis stort, skryf die nommerplaat neer of neem ’n foto en skakel 0860 103 089/021 400 6157 of stuur ’n epos na: wastewise@capetown.gov.za.