Twee mense is ernstig beseer toe die bestuurder beheer verloor het en die motor op ’n kleinhoewe beland het.Foto: Murphy Roberts


Migael Erasmus (17), ’n matrikulant aan Atlantis Sekondêr, het Sondag 5 Augustus gesterf toe die motor waarin hy ’n passasier was, gerol het.

Migael, ’n belowende jong sokkerspeler, het in die hospi­taal aan sy beserings beswyk.

Volgens inligting het die motor waarin hy gereis het glo pad vir aankomende verkeer in die Charl Uys-rylaan gegee. Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor. Dié voorval het ’n paar meter plaasgevind vanwaar ’n ongeluk die vorige week die lewe van vier mense geëis het.

Ná die nuus dat Migael oorlede is, het medelye op sosiale media ingestroom. Een van sy klasmaats, Tamia Caro­lus, het die volgende boodskap op sosiale media geplaas: “Nog nooit in die afgelope drie jaar wat ons almal in een klas was, was die klas so stil en morbied soos vandag nie. Toe ons van­og­gend in die klas kom en al­mal in trane uitbars, skop die reality in dat ons nooit, ooit weer jou harde stem sal hoor nie. Dit was vandag duidelik dat jy jou merkie in een en elkeen van ons harte gelos het. Om die hele 12A so te sien is “diep”, soos jy sou sê. Wat dieper is, is die feit dat ons jou nooit weer sal sien nie. Ons ken nie die hoekom en die waarom nie, al wil ons graag weet, is dat jy in ’n beter plek is. Sag rus, Migael Erasmus.”

Daar is ook ’n foto op sosiale media geplaas met Migael se stoel in die klas wat bo-op die tafel geplaas is met die woorde: “ . . . omdat daar nooit weer iemand jou plek sal kan in­neem nie . . .” Dié ongeluk het enkele me­ters van die toneel waar vier mense die vorige Saterdag ge­sterf het, plaasge­vind. ’n Bak­kie en Golf-motor het met mekaar gebots waarin Cheznie Adams, Johannes Esau, Grant Slingers en Deon Abrahams omgekom het.
. Nog twee mense was vroeër die dag betrokke in ’n ongeluk op die klein Dassenbergrylaan. Die bestuurder van die silwer motor het beheer verloor en dit het in die veld beland. Die motor wat ’n totale wrak is, se band het vermoedelik gebars. Die twee insittendes het ernstige beserings opgedoen.

You need to be Logged In to leave a comment.