Atlantis City (links) het die gunstelinge die seisoen, Robinvale Spurs, met 1-0 geklop. Foto: Joline van der Merwe


Atlantis City is Atlantis-sokkervereniging se Premier Uitklop-kampioene.

Hulle het die gunstelinge, Robinvale Spurs, Saterdag 15 Oktober met 1-0 geklop tydens die finaal, wat op die nuwe turf by die Robinvale-sportgrond gehou is.

Die wendoel is kort voor die einde van die wedstryd aangeteken toe Spurs se doelwagter, Craig Petersen, nie ’n hoekskop van Atlantis City kon keer nie.

Die wedstryd is teen ’n vinnige pas gespeel en dit was merkbaar dat City beter voorbereid was vir die eindstryd. Spurs het egter talle kanse verbrou en skitterende verdediging asook doelwagterspel van City het hulle verder gekniehalter.

In die eerste liga-afdeling het Pella Sporting vir ’n verrassing gesorg toe hulle met Aberdeen afgereken het. Pella Sporting het uit die staanspoor aangeval en was definitief die skare se gunsteling. In die 20ste minuut het Sporting hul eerste doel behaal. Pella Sporting het hul tweede doel met 15 minute se spel aangeteken en was toe 2-0 voor. Met sowat 10 minute oor van die wedstryd het Aberdeen ’n doel behaal. Daarna moes Pella vir ’n vale keer dat Aberdeen weer ’n doel aanteken. Aberdeen het nog ’n doel aangeteken, maar dit is nie goedgekeur nie weens onkantspel.

Ander wenners op die dag was, o.19-span: Atlantis Arsenal, o.16-span: Atlantis Leeds, o.14-span: Jomos Power, o.12-span: Aberdeen en o.10-span: Aberdeen.

You need to be Logged In to leave a comment.