Cynthia Clayton, wyksraadslid vir wyk 29 het Dinsdag 15 Mei ’n terugvoeringsvergadering by die Saxonsea-gemeenskapsaal gehou.
Volgens Clayton het die Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, Nomafrench Mbombo, met haar besoek aan die plaaslike hospitaal die vorige dag aan leiers gesê die Wesfleur-hospitaal is nie ’n daghospitaal nie, maar wel ’n distrikshospitaal.
Mbombo het glo met lede van die gemeenskap en die hospitaalraad gepraat oor die uitdagings van die hospitaal.
Sy het die raad en gemeenskap verseker dat parkering by die hospitaal baie hoog op die prioriteitslys is en die finansiering hiervan is reeds goedgekeur.
Clayton het ook gesê LED-ligte gaan in sekere gebiede in die wyk opgerig word. Met die subraad se kantore wat nou in Atlantis is, het Clayton inwoners gemaan om die bestuurder, Wessie van der Westhuizen, te nader met hul diensleweringsprobleme en ook voorstelle om Atlantis te verbeter.
Sy se voorts die grootste uitdaging in Atlantis is steeds onwettige storting en het ’n pleidooi aan inwoners gelewer om dit te rapporteer aangesien dit die Stad jaarliks miljoene rand kos.
Rdl. Clayton het inwoners van wyk 29 gevra om ook haar proporsionele raadslid, Grechan Barnado, te kontak met enige klagtes.
Barnado het voorheen in wyk 32 diens saam met Barbara Rass gedoen.