Terwyl die gevreesde Covid-19-pandemie wêreldwyd soos ’n veldbrand versprei, het inwoners van Atlantis hul min aan die nasionale inperking van 21 dae gesteur.
Atlantis-polisie het sedert Vrydag 27 Maart sy hande vol gehad met inwoners wat eenvoudig maak of dit vakansie is. Honderde inwoners wat by die reëls van die inperking hou het gal op sosiale media gebraak en gesê inwoners steur hulle nie aan wetgewing nie en vrees dat hulle die virus kan versprei.
Kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder, het in ’n WhatsApp-boodskap inwoners gewaarsku dat die polisie streng gaan optree teen oortreders wat nie gehoor gaan gee aan die wetgewing nie.
“Die inperking is nie grap nie. Inwoners wat voor spazawinkels rond staan, sal in hegtenis geneem word. Gaan na jou naaste winkel toe en koop die noodsaaklike artikels en gaan dan huis toe,” het kapt. Dicks gemaan.
Die polisie het tydens die eerste dag van die inperking sy stem behoorlik dik gemaak vir oortreders en huiswinkels is toegemaak wat nie die nodige dokumentasie het nie.
Volgens kapt. Dicks is verskeie mense aangekeer en toegesluit, onder andere drie mans in Mamre met ’n bakkie vol alkohol.
Brendan Petersen vertel hy en sy vriende het behoorlik op die eerste aand van die inperking deurgeloop.
“Ek weet ons was verkeerd om nog laat buite te wees, maar ek glo dit was nie nodig dat hulle ons so moes slaan nie,” meen Petersen.
President Cyril Ramaphosa het Donderdag aan lede van die weermag gesê die inperking is nie ’n oorlog teen inwoners van die land nie, maar ’n oorlog teen die gevreesde virus.
Dié woorde was vandeesweek deur die polisieminister, Bheki Cele, beaam. Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het in ’n verklaring Sondagaand gesê die provinsie het nou 310 mense wat positief vir Covid-19 getoets is met die Metro wat 256 persone het wat positief getoets is. “Ons doen ’n beroep op die publiek om nie hierdie virus te tart nie, niemand is bestand teen dit nie,” het Winde gesê. Hy meen ook dié statistieke is ’n duidelike bewys dat die inperking en om by die reëls te hou, van kardinale belang is.
Jy kan die verspreiding van die Covid-19-siekte voorkom deur jou hande gereeld met seep en water te was asook jou kontak met ander mense te beperk.


