Myron Cruz (25), wat tereg staan vir die dood van Ashwin Saayman van Mamre, is 3 September in die plaaslike streekhof skuldig bevind aan moord en sal 16 Oktober sy lot hoor.
Saayman is oorlede nadat hy vermoedelik byna 400 m na sy dood aan ’n motor in Mamre se hoofweg gesleep is. Dié voorval het 19 Desember 2016 gebeur.
Cruz het egter in sy getuienis ontken dat hy Saayman gesleep het en het aangevoer die oorledene het aan die motor vasgehou met ’n mes omdat hy nog wou baklei. Twee van die getuies wat saam met Saayman op die stop gestaan het, het getuig dat hulle gesien het die verdagte hou die oorledene aan sy bors vas terwyl hy vinnig weggetrek het.
Die twee getuies se weergawe is as geloofwaardig beskou en Cruz se weergawe is as “opgemaak” bestempel om sy optrede te regverdig. Die landdros het in haar uitspraak gesê die voorval kon verhoed word as Cruz net aangery het.
Volgens die ma van die oorledene, Augustine Saayman, is sy tevrede met die landdros se uitspraak en wag nou net dat geregtigheid moet geskied.