Die eendeweer by verkiesingslokale Woensdag 8 Mei het party kiesers tuis gehou omdat die persentasie kiesers wat vanjaar gestem het, laer as die vorige verkiesing is.
Talle inwoners het egter besluit dat die weer nie hul stem gaan stilmaak nie en het die koue, nat weer trotseer.
Volgens die Cook-familie van Sherwoodpark is dit belangrik dat hulle moes stem en die kinders wou ook sien waaroor die bohaai gaan om te stem en dit te ervaar. Ouma Diana Cook sê sy het gevoel dis belangrik dat haar kleinkinders verkiesingskoors ervaar “sodat hulle eendag ook die erns daarvan kan besef”.
Die hoofverkiesingsbeamptes by die meeste van die stemlokale sê alles het glad verloop en hulle het geen ernstige voorvalle gehad nie.
Kiesers van Witsand moes na ander stemlokale vervoer word nadat probleme met toerusting ondervind is.
Die DA het vanjaar skoonskip by 17 van die 18 stemlokale in Atlantis gemaak terwyl die ANC die Witsand-lokaal ingeoes het. Van die vooruitsig dat “Aunty Pat” se GOOD-party dalk die uitslag in Atlantis kon bepaal, het daar egter dadels van gekom. Die DA het 12 435 stemme, die ANC 4 682 en GOOD net 1 176 merkies gekry. Die ANC het die nasionale verkiesing ten spyte van ’n 4,65%-daling gewen en 57,51% van die stemme getrek.
Die DA, wat byna 5% swakker gedoen het, bly steeds aan die stuur van sake in die Wes-Kaap met 52.39% van die stemme.