Daar is nou lig vir Kanonkop-inwoners

Ná vele vergaderings en baie ongelukkigheid is daar uiteindelik lig vir die inwoners van Kanonkop.


Ná vele vergaderings en baie ongelukkigheid is daar uiteindelik lig vir die inwoners van Kanonkop.

Inwoners het sedert verlede jaar vir elektrisiteit gewag.

Opgewonde inwoners het met die aanskakeling van die krag van die eerste vyf huise en straatligte Woensdag 3 April die strate ingevaar.

Burgemeesterskomiteelid Grant Twigg, raadslid Phindile Maxiti en raadslid Cynthia Clayton het met die aanskakeling gesê hulle is bly die beloftes is nagekom en sê dit kon vroeër klaar gewees het as mense nie die huise afgebreek het nie.

Volgens Twigg was dit ’n onvergeetlike oomblik toe die ligte aangeskakel is, want “jy kon ook die aanskakeling op inwoners se gesigte sien”.

“Die 161 eenhede van die behuisingsprojek van fase een het Januarie 2018 begin en die laaste huise sal binnekort voltooi wees,” verduidelik Twigg.

Hy sê addisionele finansiering moes gekry word vir die elektriese werk en het baie tyd in beslag geneem en daarom was die inwoners ongelukkig.

“Dit is geld wat vir ander projekte kon gaan,” meen hy.

Twigg sê hy hoop en vertrou dat kabeldiewe nie gaan toeslaan en die proses weer vertraag nie.

“Geld wat bestee kan word aan ander projekte om die lewe van inwoners te verbeter, moet herlei word om voortdurend te herstel wat vernietig word en dit sal moet ophou,” sê Twigg.

“Dit het ’n rimpeleffek op die lewens van inwoners wat gretig wag om in die gemak van hul huise te beweeg,” het raadslid Maxiti gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.