Die 14-jarige danser Micayle Jacobs is eersdaags op pad na Denemarke om aan ’n dansoefenkamp deel te neem.
Dié leerder van Hermes Primêr is deur Frank Hagh, direkteur van die Summer Dance Cup 2018, genooi om dié oefenkamp by te woon.
Micayle het in Maart verlede jaar begin dans en is ’n student aan die Borez-dansskool in West Beach.
Sy het reeds aan sewe kompetisies deelgeneem en al haar kategorieë in beide die Latyns- en baldansafdelings gewen. Een van die kompetisies was ’n internasionale kompetisie wat in Sun City gehou is.
“Ek is ’n harde werker en oefen vir ure elke dag. Ek is baie trots op wat ek tot dusver bereik het. Om die oefenkamp by te woon, sal ’n droom wees wat bewaarheid word,” meen Micayle.
Die jong danser meen sy wil ’n ambassadeur wees vir haar dorp en die negatiewe stigma demper deur te wys daar is baie positiewe dinge wat uit Atlantis kom.
Micayle het ook besluit wanneer sy terugkom van die oefenkamp af wil sy dansklasse by die Orion- en Dawn- organisasies aanbied.
Micayle en haar ouers beplan ’n damestee om geld vir haar reis in te samel. Die totale koste vir haar reis is R25 000, dit sluit die vlugte, visa en verblyf in.
. Die Damestee vind Sondag 20 Mei om 15:00 by M&A Events (Ivan Hamshire Place, 2, industriële gebied) plaas. Kaartjies kos R100. Kontak Claudine Jacobs vir nog inligting oor die damestee of vir finansiële hulp om haar droom waar te maak by 073 810 2800.