Dias-moord: verdagtes onskuldig bevind

Twee mans het Donderdag skotvry daarvan afgekom op ’n klag van moord omdat die getuies te bang is om hof te loop.


Twee mans het Donderdag skotvry daarvan afgekom op ’n klag van moord omdat die getuies te bang is om hof te loop.

Regter Pearl Mantame het Chevano Warnick (25) en Rudi Carelse (24) in die Kaapse hooggeregshof vrygespreek op die klag van moord op Thomas Dias (26), asook twee klagte van poging tot moord.

Dias is op 5 Junie 2016 omstreeks 01:00 voor die Shah Zah-wegneemeteplek in Mamre afgemaai. Hy was die seun van ’n bekende eienaar van ’n plaaslike insleepdiens en was saam met Dominique Coetzee (22), sy meisie, en Demi, sy suster, in sy goue Mitsubishi-insleepwa. Daar is 15 skote afgevuur en Dias is op die toneel dood.

Coetzee is drie keer geskiet, maar sy het oorleef. Demi het niks oorgekom nie. Twee mans het die bakkie te voet genader en voor getuies begin losbrand. Almal was egter te bang om in die hof teen die vermeende skieters te getuig. Mantame het dus geen ander opsie gehad as om Warnick en Carelse te laat loop nie.

Die enigste persoon wat getuig het, was Dominique – sy vertel sy en Dias was al meer as twee jaar bymekaar en het ’n kind saam. Hulle het die vorige aand by Dias se familie gekuier en niemand het glo gedrink nie.

Kort voor middernag het hulle besluit om wegneemetes te gaan koop. Dominique het uitgeklim en by Shah Zah gaan kos bestel. Dias en sy suster het in die bakkie gewag. Later het Dominique ook in die bakkie gaan sit en wag oor dit so lank gevat het. “Ek het begin ongemaklik voel oor die kos so lank vat en het omgekyk om te sien of dit nie al daar staan nie.

“Toe ek terugkyk, het ek ’n skoot hoor klap. Thomas het sy hand opgelig en ‘eina’ geskree. Ek het bloed op sy linkerbobeen en maag gevoel. Toe het nóg skote geklap,” het Dominique getuig. Sy het uit die voertuig gespring en gevoel sy word in die laer rug getref. Dominique is ook in die been en maag geskiet. Sy het onder die kar ingekruip om weg te kom. Toe die skote ophou, het sy onder die kar uitgekruip. Sy is later hospitaal toe geneem. Mantame het bevind dat daar geen bewyse was waarop Warnick en Carelse skuldig bevind kon word nie en hulle kon toe skotvry loop.

You need to be Logged In to leave a comment.