Bendelede gaan nou ’n tweede kans op ’n beter lewe kry deur te boer.
Die Alusani Youth Outreach Programme is ’n inisiatief van Johan Jannsen, ’n inwoner van die Dura-woonstelle om skoolverlaters en kwaaddoeners ’n kans te gee om deur boerdery hul lewens te verander.
Die projek is moontlik gemaak deur Marius de Vos, ’n plaaseienaar buite Atlantis, wat een hektaar van sy plaas afgestaan het vir die jong mans om te bewerk.
Weskus Nuus het die 13 mans 19 September ontmoet. Hulle is baie opgewonde oor die projek en sê hulle wil ’n beter lewe lei.
Die mans, wat almal in die berugte Dura-woonstelle bly, sê hulle sien uit na die uitdaging om volwaardige boere te word en begin reeds volgende week hul grond bewerk.
De Vos, wie ook ’n Alusani Youth Outreach Programme-komiteelid is, sê hy is bereid om selfs meer grond aan die groep te skenk namate die projek groei.
Jannsen sê aansoek vir finansiering om die projek verder te neem, is reeds in ’n gevorderde stadium.
Die voormalige bendelede is dit eens, dat hulle die projek gaan máák werk, want hulle is moeg vir hulle omstandighede. “Ons is aan ons eie genade oorgelaat,” het een van die nuwe boere, net bekend as Geweld gesê.
“Ons moet maar smokkel om aan die lewe te bly,” vertel Ashwin* en sê sy paaie met bendes het gekruis toe sy vriende afgemaai is.
“Ek wou net wraak neem en het by ’n bendegroep aangesluit. My huislike omstandighede het my ook na bendes gedryf. Ek wou ’n beter lewe vir my familie hê,” voeg hy by.
Die mans sê met die huidige vlaag moorde op die dorp besef hulle al hoe meer dat een van hulle dalk volgende kan wees, indien hulle aangaan met bende-bedrywighede.
Janssen sê die projek is een manier hoe bendegeweld in die gebied hok geslaan kan word. “Die bendelede is ook deel van ons gemeenskap en dit gee hulle ’n kans om bemagtig te word. Die opbrengs van die groentetuine wat die mans beplan, sal direk aan hulle gaan om so ook ’n loon te verdien,” verduidelik Jannsen.
(* merk ’n skuilnaam)