“Ek gaan eendag vir Manchester United sokker speel.”
Jhonny Magic het dít al aan sy ma gesê toe hy in gr. 4 met ’n sokkerbal kon toor.
Dis as gevolg van dié skills dat hy die bynaam Magic gekry het. Jhonny, enigste kind van Aunty Maggy en Oom Zaal, het net oor sy sokkerdrome gepraat en het sy ouers plegtig belowe om net op sy sport en skoolwerk te konsentreer, want hy wou vir hulle ’n beter lewe skep.
Maggy het as skoonmaker vir die meer gegoede families gewerk terwyl Zaal loswerkies gedoen het om sy dors te les. Jhonny het gou diep in sy afrigter se hart gekruip omdat hy gesien het Jhonny het ’n natuurlike aanvoeling vir die sport. Skole het gou tou gestaan om die kranige sokkerspeler op te raap, maar Magic was gelukkig waar hy was en het getrou sy laerskoolopleiding voltooi waar hy elke jaar die provinsiale span gehaal het en die uitdaging van ’n hoërskool het die senuwees laat knaag. Daar was nooit geld vir stewels en ander necessities nie en as dit nie vir die coach was wat voorsien het nie, sou Jhonny seker lankal tou opgegooi het. Maggy het haar kind bemoedig om sy drome na te streef en só het Jhonny besluit om sy hoërskoolloopbaan te pak. Aan die begin was dit moeilik by die nuwe skool, want nie almal het vir Magic geken en geweet hy kan toor met ’n sokkerbal nie. Almal het net gebrag oor hoe duur hul selfone was en met skoene wat jou blind maak as jy daarna kyk.
Jhonny het alles maar stadig gevat en was nie juis een vir vriende maak nie, want vriende wil kom kuier en hy het nie kans gesien dat ander van sy omstandighede weet nie. Baie dae ná oefening was daar skaars iets om te eet, maar Jhonny het vasgebyt en geglo. Die sokkerveld is waar hy bevrediging gekry het en gou was hy gewild onder sy spanmaats en almal wou saam met Magic uithang. Zane Gevaarlik, die span se doelwagter, en Jhonny het gekliek en gou was hulle buddies, hyself kom uit soortgelyke omstandighede. Dit was die voorlaaste jaar op skool en die twee was weer gekies om te gaan toer. Jhonny kon nie gaan nie weens die geldnood, maar Zane het hom gerusgestel dat alles oukei sal wees. Twee dae voor die toer val Jhonny se oë byna uit sy oogkaste toe Zane hom die rol note wys waarmee hulle die toergeld gaan betaal. “Waar kry jy die geld,” wou hy met alle mag weet, maar Zane ontduik die vrae . . . uiteindelik bieg hy, “ek het iemand ’n favour gedoen en dit was my reward.” En hy laat Jhonny sweer dat hulle nie weer hieroor sal praat nie. . In die volgende hoofstuk: Jhonny maak kennis met geld, duur klere en mooi meisies.–Vervolg in 26 Maart se uitgawe.