Dienslewering sal nou seëvier

’n Plaaslike raadslid is amptelik aangewys as die voorsitter van subraad 1.


’n Plaaslike raadslid is amptelik aangewys as die voorsitter van subraad 1.

Cynthia Clayton is amptelik ingehuldig tydens ’n raadsvergadering by die Milnerton-raadsaal op 15 November. Die subraad sal ook voortaan in Atlantis gevestig wees.

Subraad 1 bestaan uit wyke 23, 29, 32 en 104, wat Atlantis, Mamre, Pella, Saxonwold, Du Noon, Melkbosstrand en ’n gedeelte van Table View insluit. Clayton het gesê sy is dankbaar aan God vir die eer om as voorsitter verkies te word en voel die nuwe struktuur gaan tot voordeel van Atlantis wees. Die nuwe struktuur kom met gemengde gevoelens nadat inwoners van Table View hul misnoeë uitgespreek het op sosiale media. Daar is ook ’n petisie met 870 handtekeninge by die Stad Kaapstad in- gedien om die besluit teen te staan.

Met die nuwe struktuur is die kantore nou in Atlantis en Parow en nie meer in Milnerton nie. Clayton het egter alle inwoners in die subraad verseker dat niemand uitgesluit sal word nie.

Die subraad gaan veral fokus op ekonomiese groei in die area. “Ons wil meer beleggers kry om in die gebied te belê. Hiermee gaan ons die hoë werkloosheidsyfer aanspreek, wat ’n ekonomiese aktiewe gemeenskap beteken en dalk ’n impak kan hê op die misdaadsyfer,” het Clayton gesê.

Subraad 1 bestaan tans uit sewe lede, waarvan vier lede van Atlantis afkomstig is. Ander punte wat die subraad in Atlantis wil aanspreek is: die oprig van verkeersligte, meer behuising vir minderbevoorregte en gestremde persone, asook diegene wat vir GAP-behuising kwalifiseer.

Clayton sê die doel van ’n subraad is om besluite vas te maak wat die gemeenskap bevorder en verskeie diensleweringsaspekte hanteer. “Amptenare soos distriksbestuurders gee ook terugvoering aan raadslede oor wyksallokasies en raadslede verrig ’n moniteringsfunksie, sodat dienslewering kan seëvier,” verduidelik Clayton.

Proporsionele raadslid, Gregchan Barnardo, sê op sy beurt hy dink die subraad is in goeie hande.

You need to be Logged In to leave a comment.