Dokter voor bekende nagklub doodgeskiet

’n Traumadokter van die Tygerberg-hospitaal is Sondag 27 Mei in die vroeë oggendure by ’n bekende nagklub in Atlantis doodgeskiet.


’n Traumadokter van die Tygerberg-hospitaal is Sondag 27 Mei in die vroeë oggendure by ’n bekende nagklub in Atlantis doodgeskiet.

Dr. Clinton King (44) van Durbanville het op die toneel aan sy skietwond beswyk.

Volgens kapt. FC van Wyk, provinsiale woordvoerder, het dié voorval net voor 04:00 plaasgevind en word die omstandighede rakende die voorval nog ondersoek.

King, wat vermoedelik met bendebedrywighede betrokke was, is in Oktober 2013 by sy huis in hegtenis geneem vir die besit van vuurwapens en het in die hof verskyn op ’n rits ander oortredings.

Die staat het destyds aangevoer dat King tussen 2006 en 2010 aktief by die Hard Living-bende in die Athlone-omgewing betrokke was en was ook met dwelms ter waarde van R50 000 betrap. Hy is ’n opgeskorte vonnis vir sy oortredings opgelê.

Volgens ’n betroubare bron was King nie baie welkom in Atlantis nie omdat hy vermoedelik bande met die 28’s- bendes gehad het, maar die polisie kon die stelling nie bevestig nie.

Volgens die bron het die oorledene glo ’n argument met die verdagte gehad waarna die oorledene ook ’n vuurwapen uitgepluk het, maar die verdagte was vinniger en het hom in die kop geskiet.

You need to be Logged In to leave a comment.