Vertel ons lesers ’n bietjie van jouself?
Ek is gebore en getoë in Atlantis, my skoolopleiding het ek by Avondale Primêr en Atlantis Sekondêr ontvang. Ek is gek oor sokker – ’n groot Manchester United fan en ook oor die see, veral bodyboarding, swem en avonture wat my bloeddruk so bietjie opstoot. Maar ek hou ook van lekker kuier saam met vriende en familie.
Wat se werk doen jy en waar werk jy? Ek is ’n algemene praktisyn (mediese dokter) en werk in Atlantis, Durbanville en Kraaifontein op verskillende dae elke week. Ek werk ook soms deurnag by Wesfleur- of Kraaifontein-hospitaal. Dan is ek ook ’n geakkrediteerde mediator vir mediese nalatigheid en is besig met my LLB-graad deur UNISA.
Hoe het jy op jou beroep besluit? My oorlede ouma het altyd geglo ek gaan ’n dokter word, en ek dink die idee het by my gebly – ek het nooit anders besluit nie. Dit het my sewe jaar geneem omdat ek eers ’n akademiese ontwikkelingsprogram vir ’n jaar moes bywoon voor ek medies kon studeer aan Universiteit Stellenbosch.
Die idee om my LLB-graad te doen het ontstaan nadat ek in verskeie agtergeblewe dorpe begin werk het. Daar is ’n groot nood om verandering te bring en slegs politieke leiers kan dit doen, so ek beoog om in mediese regte te praktiseer, totdat ek genoeg ervaring het om ’n politikus te word.
Verduidelik kortliks wat jou werk behels?
Medies: ek dink my werk as algemene praktisyn is vanselfsprekend: die primêre sorg van siektes in kinders en volwassenes, asook ginekologiese siektes, trauma, psigiatriese siektes, ens.
Mediator: indien twee partye met mekaar verskil in die mediese veld; dokter teen dokter, pasiënt teen dokter, ens. en hulle kan nie ’n hofproses bekostig nie of dit is van so ’n aard dat dit nie ernstig genoeg is vir ’n hof nie, tree ek as mediator of fasiliteerder van die saak op. Ek werk vir MiM: mediation in motion by die Universiteit van Kaapstad.
Watter eienskappe maak jou goed in jou werk? Ek het goeie luister-eienskappe en is ’n mense-liefhebber.
Wat is jou motto?
Impossible is nothing.
Wat is die sleutel tot jou sukses? Gee aan God wat aan Hom behoort en die res sal volg. Toon respek aan almal. Moet nie vergeet wie dit vir jou moontlik gemaak het om te hê wat jy het nie.
Wie of wat is jou grootste inspirasie /motivering? My ouers, hul huwelik, leefwyse en ouerlike eienskappe.
Wat wil jy nog graag in die lewe bereik? Ek wil graag my LLB-graad voltooi, werk as ’n mediese regte prokureur, gevolg deur politikus. Persoonlik sal ek ook my eie papnekkie wil vashou – wanneer die tyd reg is. Maar die mees belangrike, ek wil eendag onthou word as ’n goeie man en pa.