Doodgesteek ná ’n ‘pak slae’

Sy was keelvol omdat hy haar soos ’n kind ’n pak slae met ’n gordel gee, toe gryp sy ’n mes en steek hom glo.


Sy was keelvol omdat hy haar soos ’n kind ’n pak slae met ’n gordel gee, toe gryp sy ’n mes en steek hom glo.

Brendon Snyders is Donderdag 21 Junie na 17:00 deur sy agt maande swanger meisie in hul wendyhuis doodgesteek nadat hy haar glo met ’n belt bygekom het.

Die ma van Snyders se sesjarige dogter was glo moeg van sy streke.

Die verdagte se ma, het met WeskusNuus ná die voorval gesels.

“Brendon het met sy broer en vriend buite gesit en drink toe hy geld by my dogter soek. Toe my kind sê sy het niks geld nie, het hy haar glo geklap en in die wendyhuis ingetrek.

“Hy het hulle kind by die deur uitgesit en die deur gesluit en toe het hy haar met sy belt ’n pak slae gegee,” vertel die vrou se ontstelde ma.

“My kind het gereeld pak gekry en sy kon dit nie langer verduur nie, toe gryp sy ’n mes en steek hom.”

Volgens die ma het haar dogter en die oorledene saam in ’n wendyhuis by sy ma gewoon.

“My kind moes baie deurmaak,” vertel sy, “en ek verstaan hoe sy moes voel om elke keer verneder te word”.

Die polisie het die verdagte in hegtenis geneem, maar intussen weer vrygelaat op waarskuwing dat sy in die Atlantis-landdroshof moet verskyn op ’n aanklag van moord.

Sy het, op aanbeveling van familie, geweier om met WeskusNuus te praat.

Volgens kapt. F.C van Wyk, polisiewoordvoerder, het Snyders op die toneel aan drie steekwonde beswyk.

Van Wyk het verder bevestig die polisie het ’n 21-jarige verdagte in hegtenis geneem en die moordwapen is op die toneel gevind.


.
Die familie van die oorledene wou nie met die koerant praat nie.

You need to be Logged In to leave a comment.