Dorp moet veilig gemaak word

Breydon Graaf is verlede Saterdag 29 Oktober uit die God’s Faith Mission gemeente op Atlantis begrawe.


Breydon Graaf is verlede Saterdag 29 Oktober uit die God’s Faith Mission gemeente op Atlantis begrawe.

Dit was ’n emosionele roudiens met die tweejarige se maatjies wat in hul wit T-hemde met sy gesig op, sy geliefkoosde Barney-liedjie, “I love you” gesing het.

“Sy sitplek in die crèche sal vir altyd leeg wees,” sê juffrou Melony Rosa, van die John Stroebel-dagsorgsentrum, “hy het in ons almal se harte gekruip en sy plek sal nooit gevul kan word nie,” voeg sy by.

Graaf se dood het opslae gemaak nadat hy die jongste slagoffer van die voortdurende geweld tussen opponent-bendes in Atlantis geword het.

Hy is Saterdag 22 Oktober omstreeks 20:30 deur ’n dwaalkoeël getref. Volgens kol. Zerelda Nortjé, stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, het die seun op sy ma se skoot gesit terwyl sy by vriende in dieselfde woonstelblok, by die Dura-woonstelle, gekuier het.

Die verdagtes het na bewering op Danick Hendricks geskiet terwyl hy en sy vriendin by ’n nabygeleë busstop gestaan het, hy is in die skouer getref.

In dieselfde voorval is Graaf se ma, Rostan, ook in die arm gewond.Tydens die roudiens het die diensleier genoem dat Graaf se dood die gemeenskap van Atlantis gaan herenig en dat gemeenskapslede moet saamstaan om die dorp weer veilig te maak vir die kinders.

Drie mans (17, 19 en 20 jaar) is dae later in verband met die kleuter se moord in hegtenis geneem op aanklagte wat verband hou met moord en poging tot moord. Die verdagtes het op 25 Oktober en 1 Novem-ber vlugtig in die Atlantis-landdroshof verskyn.

Inwoners en die media is nie toegelaat in die hof nie, omdat een van die verdagtes minderjarig is.

Woedende inwoners het geskree dat dit onregverdig is, dat die 17-jarige nou as ’n “jeugdige” beskou word, terwyl hy “vrylik mense doodskiet.”

Die verdagtes se borgaansoek is uitgestel tot Woensdag 23 November.

You need to be Logged In to leave a comment.