Die tweejarige Brayden Graaf is die jongste slagoffer van deurlopende bendegeweld in Atlantis.
Troosboodskappe aan die ouers is Sondag wyd op sosiale netwerke versprei nadat die peuter Saterdagaand deur ’n dwaalkoeël getref is terwyl hy buite, op sy ma se skoot gesit het.
Die voorval het omstreeks 20:30 gebeur. Ouma, Geraldine Moses vertel haar dogter, Rostain Graaf, het by vriende in dieselfde woonstelblok, Babblers Place, by die Dura-woonstelle gaan kuier.
“Brayden het gehuil en sy het hom saamgeneem. Hy wou net by sy ma wees,” het ’n emosionele Moses vertel.
Volgens ’n ooggetuie, wat langs Graaf en haar seun gesit het ten tyde van die voorval, het een van die paartjies wat ook saamgekuier het, by die nabygeleë busstop gaan staan om bietjie privaatheid te kry.
“Ons het die blou kar sien optrek, maar het dit nie veel aandag gegee nie. Die volgende oomblik hoor ons net skote. Die skieter het op die paartjie begin skiet,” vertel die ooggetuie.
Die vriend het in hulle rigting begin hardloop met die man wat steeds staan en skiet. Die man is in die skouer gewond. “Ons het bottels na hom gegooi (die skieter), hy het in die kar gespring en weggejaag.
Fabian Brand, wat ook saam gekuier het, vertel dat Rostain, wat ook twee keer, in die arm en hand getref is, met Brayden op die arm, skreeuend na haar huis gehardloop het.
Hulle het besef die kleintjie is raakgeskiet, net voor Rostain neergesak het. “Ek het Brayden uit haar arms gevat, ’n kar in die pad gestop om die kleintjie na die hospitaal te neem,” vertel Brand.
Brayden het toe reeds aan sy wonde beswyk.
“Met 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders in sig, is bendegeweld besig om handuit te ruk in Atlantis. Meer onskuldige kinders word slagoffers,” sê Barbara van Bo, een van die inwoners van Babblers Place en gemeenskapswerker.
Donderdagoggend 20 Oktober, is ’n sewejarige gr. 1-leerder, by dieselfde woonstelle skrams in die heup gewond nadat skieters op ’n huis losgebrand het.
In ’n tweede voorval dieselfde aand, is ’n 15-jarige in die bors geskiet in Robinvale, dié is steeds in ’n ernstige toestand die hospitaal.
In die vorige uitgawe van Weskus Nuus is daar ook berig van ’n 10-jarige wat 25 September by die Neptune Castle-woonstelle gewond is. Kol. Zerelda Nortjé, stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, het die voorval by Babblers Place bevestig. “Tussen 20:00 en 21:00 Saterdagaand, het ’n verdagte op ’n paartjie begin losbrand, ’n tweejarige is in die voorval getref en is met sy aankoms by die hospitaal dood verklaar. Nog twee mense is gewond.” Sewe verdagtes is ingeneem vir ondervraging, drie is amptelik Maandag aangekla.