Drie mense is Sondag 4 Augustus in twee afsonderlike brande dood.
Die Atlantis-polisie is vroeg die oggend na ’n kleinhoewe op die Silwerstroompad ontbied.
Volgens kapt. Cyril Dicks, ’n polisiewoordvoerder, het die lede op die lyke van twee onbekende mense afgekom. Hulle het onherkenbaar verbrand. Die polisie het gesê dis steeds onbekend hoe die brand ontstaan het en het ook aangevoer dat die lyke slegs deur middel van DNS-toetse geïdentifiseer kan word.
In ’n tweede voorval dieselfde nag het Mandy Dammes glo weens rookinaseming beswyk nadat die gesin se huis in Pearl Mansion op onverklaarbare wyse begin brand het.
Dammes se twee maande oue babaseun en haar suster, Janine, se kleinkind van 10 maande het in dieselfde kamer geslaap.
Janine sê sy was nie tuis ten tyde van die voorval nie, maar dat die brand, wat ongeveer 02:00 uitgebreek het, moontlik deur ’n kortsluiting veroorsaak is.
“Ons is net dankbaar dat al die kinders betyds na veiligheid geneem kon word,” sê sy.
Sewe familielede is volgens Janine in die plaaslike hospitaal opgeneem en is vir rookinaseming behandel.
Hulle is reeds ontslaan.
Die gesin woon nou by verskillende familielede.
Die familie, wat alles in die brand verloor het, het slegs die klere wat hulle gedra het, oor.
Radio Atlantis, MK1 Lifestyle het saam met Weskus Nuus ’n projek begin om skenkings vir die familie in te samel. Die gemeenskap en plaaslike ondernemings soos Atlantis Booksellers, Pick n Pay en GW Events het hul harte vir die familie oopgemaak en babaklere, weggooidoeke, kos, klere en komberse is Woensdag aan die gesin oorhandig.
Bydraes van so ver as Kuilsrivier is ontvang wat Nico Wagenstroom, ’n gemeenskapswerker, gaan oplaai het.
Die gesin het almal vir hul bydrae in hul tyd van nood bedank.
’n Geregtelike nadoodse ondersoek- dossier is vir beide voorvalle geopen.