Dronkbestuur: baba beseer

“Dit het gelyk soos ’n vliegtuig wat besig is om op te styg.”.


“Dit het gelyk soos ’n vliegtuig wat besig is om op te styg.”

Só beskryf die 29-jarige Leanne Verhoog van Pella, die beeld wat Woensdag 2 Augustus voor haar afgespeel het voor sy haar bewussyn verloor het.

“Toe ek wou kyk waar die geraas vandaan kom, het my oë amper uit my kop geval, want toe kom die rooi motor deur die lug gesweef en op my afgepeil.

“Meer as dit kan ek nie onthou nie,” vertel Verhoog.

Die ma van twee is woonagtig in Montagu en het by haar suster in Pella saam met haar kinders van ses jaar en vier weke gekuier. Sy het haar kinders klaar gewas toe die ongeluk gebeur.

“Toe ek bykom, was ek onder die kar en het omstanders gesmeek om my uit te kry. Ek moes my kinders soek.

My baba is na ’n tyd ook onder die motor gevind.

“Sy het doodstil gelê, ’n ambulans is ontbied en my baba is na Wesfleur-hospitaal gejaag en is later na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas.” Ma en dogter is op Vrouedag ontslaan, maar Leanne sê haar baba moet oor twee weke vir ’n rits operasies gaan, want haar heup en kakebeen is gebreek en haar liggaam is in ’n stywe broekpak om die heup in plek te hou.

Leanne het ’n kopbesering en verskeie ander kneuswonde opgedoen, terwyl haar sesjarige ook verskeie kneuswonde opgedoen het.

Volgens Meagon Verhoog (24), aan wie die woonstruktuur behoort, was sy in Atlantis om inkopies te doen ten tyde van die ongeluk.

Volgens ’n omgekrapte Meagon, het omstanders aan haar vertel dat die “oom” wat in haar woning gery het, glo “smoordronk was en teen ’n stinkspoed gery het”.

Volgens kapt. Cyril Dicks, Atlantis- polisiewoordvoerder is ’n verdagte in hegtenis geneem en word ’n klag van dronkbestuur ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.