Dronkbestuurder vier jaar later eers gestraf

“Na ’n vierjaarlange nagmerrie, is ek net bly hy gaan boet vir sy dade.”.


“Na ’n vierjaarlange nagmerrie, is ek net bly hy gaan boet vir sy dade.”

Só vertel Hillary Hill, wat se vierjarige dogter, Jade, in 2014 deur ’n dronkbestuurder omgestamp is. Sy het op die sypaadjie geloop.

Andrew Jacobs (29) is Dinsdag 13 Junie, altesaam 15 jaar tronkstraf in die Atlantis-hof opgelê, op klagte van strafbare manslag, dronkbestuur en bestuur sonder die besit van ’n geldige rybewys.

Jacobs het 17 Desember 2014 die bakkie bestuur toe klein Jade op die sypaadjie getref is, waar sy saam met haar ma geloop het.

“Ons was veilig op die sypaadjie toe die bakkie teen ’n hoë spoed oor die sypaadjie gery het. Toe ek sien was my kind weg. Sy het onder die bakkie gelê,” het Hill vertel.

Volgens Hill, wou Jacobs glo ontslae raak van leë drankbottels in die bakkie en wou hy van die toneel wegry, maar is deur omstanders verhoed. Jade het vyf ure later in die Rooikruis-hospitaal aan veelvoudige kopbeserings gesterf.

“Die straf gaan nie my kind terugbring nie, maar ek is bly hy gaan tronk toe. Ons kon nie closure kry vir my kind se ontydige dood, terwyl die man wat verantwoordelik was vir haar dood skotvry buite rondloop nie,” het Hill gesê.

Die saak het vier jaar geduur omdat dit vir twee jaar nie op die hofrol was nie, omdat die dossier, volgens Hill, verdwyn het.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het in Augustus 2015 bevestig die dossier was nog nooit op die hofrol geplaas nie.

“Niemand het geweet waar die dossier is nie en die ondersoekbeampte het net skouers opgetrek,” het Hill gesê.

“Dit is weer ’n bewys, as ’n mens nie aanhoudend navrae doen by die polisie nie, gaan daar niks van ’n saak kom nie.”

Jacobs het skuldig gepleit op die drie aanklagte teen hom en is tot gevangenisstraf van 10 jaar vir strafbare manslag en vyf jaar vir die ander twee klagte gevonnis.

You need to be Logged In to leave a comment.