Kyle Doyle is Weskus Nuus en SuperSport se Let’s Play-wenner vir Februarie.
Die 10-jarige leerder van Saxonsea Primêr is tans in gr. 4 en het hierdie jaar die Westelike Provinsie by die Suid-Afrikaanse atletiekbyeenkoms in Paarl verteenwoordig.
Die kranige atleet het ’n silwermedalje in die 4×100 m verower en het ook in die vierde plek in hoogspring in sy ouderdomsgroep behaal.
Hy het by die WP-kampioenskap goud in die 80 m, 100 m, hoogspring én 4×100 m behaal.
Hy het sy plek in die Suid-Afrikaanse span bespreek by die Wes-Kaapse kampioenskap in Oudtshoorn toe hy ook goud in die 80 m, 100 m, hoogspring en silwer in die 4×100 m verower het.
Asof hy nie veelsydig genoeg is nie, speel die jong atleet ook rugby, en sy gunstelingposisie is senter.
Doyle sê hy hoop om eendag Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig en wil graag hard werk om sy droom te verwesenlik.
Skole en afrigters in Weskus Nuus se verspreidings-area word uitgenooi om hul atlete in te skryf om in aanmerking te kom vir die Let’s Play-wenner van die Maand. Die maandwenner se profiel sal in die koerant verskyn en hy/sy ontvang ’n geskenkpak van SuperSport. Aan die einde van die jaar word ’n algehele wenner gekies tydens ’n ete saam met hul ouers, skoolhoofde en afrigters.
Stuur ’n kort opsomming van die leerder se prestasies aan Murphy.Roberts@media24.com of bel 021 572 9090 vir meer inligting.