Ouers van Mamre veg nou saam teen dwelmmisbruik.
Dié optrede is genoodsaak nadat een ouer, wat by die Walking Bus-projek betrokke is, soggens en smiddae opgelet het hoe dwelms aan jong kinders verkoop word wat vir die skoolbus wag. Die Walking Bus-projek bestaan uit ouers wat saam met kinders na en van die skool loop.
Volgens dié vrou, wat anoniem wil bly uit vrees dat sy dalk geïntimideer kan word, het sy gesien hoe dwelmhandelaars dwelms aan die leerders verkoop terwyl hulle op die bus wag.
“Ek het met ’n paar ouers gepraat en van die ouers het besluit om soggens saam met my te loop,” vertel die vrou.
Die Stad Kaapstad se wetstoepassers het ook hand bygesit deur klopjagte te hou, waar ten minste twee leerders in besit van dwelms gevind is.
“Ons het beslis nog nie die stryd teen die verspreiding van dwelms onder leerders gewen nie, maar ons gaan nie opgee nie,” het die groep ouers aan Weskus Nuus gesê.
“Ons sal dit waardeer as nog meer ouers betrokke wil raak, want dit gaan nie oor wie se kind dit is nie, maar oor die impak wat dit in die gemeenskap kan hê. Die dwelmhandelaars raak slimmer so ons moet ten alle tye paraat wees.”
Die inwoners van Mamre meen ook die onlangse daggavonds is maar ’n druppel in die emmer en het gevra dat mede-inwoners die dwelmbedrywighede aan die polisie moet rapporteer.
Weskus Nuus het onlangs die vordering van Mamre-sportterrein gaan monitor en het op ’n paar seuns afgekom wat doodluiters op die paviljoen gelê het, terwyl hulle in die skool moes wees.
Die “drosters” het eerder werkers lê en dophou. “Drosters” is volgens die groep besorgde ouers ook besig om toe te neem.