Die noodlot het verlede week twee keer by ’n gesin van Mountview (Ext. 13) besoek afgelê.
Die familie het skaars tyd gehad om die ontydige dood van hul moeder te verwerk, toe hul huis die volgende oggend afbrand.
Elizabeth Jacobs, beter bekend as Lizbet, ’n berader by Atlantis-polisie se traumasentrum, het verlede Maandagoggend in die Wesfleur-hospitaal gesterf.
“Die skok was groot toe my ma aan hartversaking sterf. Ons was nog besig om dit te verwerk, toe die huis die volgende oggend omtrent 08:00 afbrand,” vertel Charmonique Jacobs.
Bradley Fourie vertel hy was Dinsdagoggend besig om met twee van Lizbet se polisiekollegas te praat, toe sy verloofde, Charlene Mosterd, skree die Wendy-huis, wat deel van die huis is, brand.
“Dinge kon soveel erger gewees het met twee peuters (3 en 4 jaar) wat in die Wendy-huis was, ten tyde van die brand,” sê Jacobs.
Fourie en Mosterd kon die kinders betyds uitkry en die twee spruite was ongedeerd, maar niks kon gered word nie. “Die vuur het soos ’n veldbrand versprei en binne minute was alles oor.”
Die reeds getraumatiseerde familie het alles verloor. Almal het slegs die klere aan hul liggaam oor. Die huis moet ook moontlik gesloop word, omdat dit ’n veiligheidsrisiko is, het brandweermanne op die toneel aan die familie gesê.
- Volgens Jacobs slaap sy en haar kinders nou by haar kêrel, terwyl die ander by familie moet nes-skop. Volgens kapt. Cyril Dicks, van die Atlantis-polisie, is dit onbekend wat die brand veroorsaak het. Dicks is ook besig om donasies in te samel vir die familie. Enigeen wat ’n bydrae wil lewer, kan hom kontak by 021 571 8500.