Dwelmhandelaars se dae getel toe Metropolisie en honde toeslaan

“Dwelmhandelaars in Atlantis en omgewing moet maar versigtig wees, want ons kom vir hulle.”.


“Dwelmhandelaars in Atlantis en omgewing moet maar versigtig wees, want ons kom vir hulle.”

Só sê die hoof van die Stad Kaapstad se metropolisie, Wayne le Roux. Wetstoepassers het Donderdag 15 Junie hulle teenwoordigheid laat geld in Atlantis, toe meer as 60 lede op verskeie dwelmhuise in die dorp toegeslaan het. Weskus Nuus en ander media is saamgenooi.

Volgens konst. Caswell Julies, woordvoerder van die metropolisie, het lede van die stad se bende-, dwelm-, en honde-eenheid en wetstoepassers vertroulike inligting deur verskeie bronne opgevolg en op sekere huise, waar daar vermoedelik dwelms verkoop word, toegeslaan.

Julies het gesê meer sulke klopjagte sal in die toekoms gehou word om dwelmhandelaars lam te lê. Die klopjag het skuins na 13:00 begin en het omtrent vyf ure geduur. Slegs twee mense is in hegtenis geneem vir die besit van dagga en Mandrax.

Inwoners het hul misnoeë teen die dwelmhuise uitgespreek en sê hulle verwelkom die optrede van die wetstoepassers en sal nie skroom om inligting aan hulle te verskaf nie.

Twee inwoners, Simone Scheepers en Christele Reiners, is tydens die klopjagte deur die wetstoepassers, naby ’n vermeende tikhuis, deursoek en sê die beamptes was baie professioneel en ordentlik.

“Ons het ons volle samewerking gegee, want die beamptes het ons met respek behandel. Hulle het ons nie rondgeklap of rondgeruk – soos ander met ons maak nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.