Die lokval van dwelmmisbruik.
Wat is ’n geestesversteuring? Dit verwys na die ontwikkeling van geestesgesondheidsprobleme wat deur alkohol- of dwelmmisbruik veroorsaak word. Soos byvoorbeeld as iemand as gevolg van dwelmmisbruik psigotiese versteurings ontwikkel.
Dit kan wees soos hallusinasies wat beteken dat die persoon goed hoor en sien wat nie werklik bestaan nie.
Watter middels kan psigotiese versteurings veroorsaak? Enige dwelmmiddel kan geestesiektes veroorsaak, terwyl ander middels weer meer geneig is om spesifiek psigose te veroorsaak. Hierdie is middels soos dagga en stimulante soos tik en alkohol.
Wanneer sal ’n psigotiese versteuring na vore kom?
. Simptome van psigose kan voorkom terwyl iemand besope is, met ander woorde, terwyl iemand die middel gebruik en direk nadat hulle opgehou het om die middel te gebruik. Byvoorbeeld mense wat LSD gebruik, is geneig om visuele hallusinasie te ervaar, deur goed te sien wat nie werklik bestaan nie.
. Simptome kan ook na vore kom by die onttrekking van alkohol of dwelmmiddels, byvoorbeeld persone wat heelwat alkohol gebruik het mag afbrekende ouditiewe hallusinasies ervaar, met ander woorde hul kan stemme hoor wat nie werklik bestaan nie. Hierdie stemme sal hul kritiseer en afbreek. Dit gebeur gewoonlik wanneer hul besig is om van alkohol te onttrek nadat hul baie alkohol ingeneem het.
. Simptome kan ontstaan ná die gebruik van dwelmmiddels. Hierdie simptome kan op twee maniere na vore kom.
’n Psigose wat van korte duur is: Hierdie psigotiese episode duur gewoonlik vir slegs ’n maand en kan met medikasie behandel word. Dit kan ook ’n lewenslange kroniese psigotiese siekte soos skisofrenie veroorsaak.
Indien die psigotiese siekte lewenslank is, sal behandeling waarskynlik ook lewenslank wees.
Wie kan almal middelaangedrewe psigose ontwikkel? Die vinnige antwoord is dat enigiemand wat gedagte- en gemoed- veranderende middels gebruik, hulself in ’n risiko plaas om ’n psigose te ontwikkel. Dit is waarom daar na dwelm- en alkoholmisbruik as ’n lokval verwys word. ’n Persoon kan nooit sekerheid hê dat jy nie ook ’n psigose sal ontwikkel nie, al gebruik jy die middel slegs eenmaal.
Daar is wel faktore wat jou risiko om wel ’n psigose te ontwikkel vergroot. Hierdie sluit in persone wat ’n ingebore dormante geneigdheid het om psigotiese siektes te ontwikkel. Dit sluit persone in wat ’n familiegeskiedenis het van geestesiektes. Kroniese of langtermyngebruikers plaas hulself ook in ’n groter risiko, sowel as adolessente wat op ’n jong ouderdom reeds dagga gebruik.
Sodra enige psigotiese simptome na voorskyn kom, moet u onmiddellik hulp verkry.
Die veiligste manier om hierdie soort van psigose te vermy, sal wees om die lokval te vermy. Dit beteken om eerder glad nie alkohol of dwelmmiddels te misbruik nie.
Waar kan jy hulp kry? Indien u, of iemand wat u lief het, hulp benodig in terme van middelaangedrewe psigose of middelmisbruik, skakel gerus Cape Town Drug Counselling Centre by 021 571 7180.