Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.
Só sê Natalie Manuel, ’n dwelmverslaafde van Sherwood Park, wat op ’n missie is om die euwel te oorkom.
Manuel het besluit om haar storie met Weskus Nuus te deel omdat sy ’n verskil in die gemeenskap wil maak deur aan andere te wys dat dwelmmisbruik oorkom kan word.
Manuel was vir 15 jaar aan tik verslaaf.
“Ek was desperaat om die tiklollie te los en het deurgedruk met die hulp van Cynthia Cook van die departement maatskaplike ontwikkeling,” vertel sy.
Sy sê Cook se motivering en bystand het haar nog meer laat glo dat sy ’n lewe sonder tik kan lei. Met Cook se bystand het sy haar pad na ’n beter mens by die Kensington-rehabilitasiesentrum (KTC) begin.
“Ek was vir drie maande by die sentrum en is nou besig met ’n program vir buitepasiënte van twee jaar,” vertel sy.
Manuel sê sy weet daar lê nog ’n baie lang pad vir haar voor en die versoeking klop nog elke dag aan haar deur, maar haar selfvertroue is hoog.
“Ek was in die begin skrikkerig om terug te kom omdat ek weet hoe maklik dit is om tik in Atlantis in die hande te kry, maar die ondersteuning wat ek kry, laat my glo dit is moontlik om ’n lewe sonder dwelms te hê.”
Die KTC het in ’n kort verklaring gesê dat hulle reeds verskeie pasiënte van Atlantis behandel en het veral vroue aangemoedig om met maatskaplike dienste kontak te maak indien hulle hulp nodig het.